sr1207_hoofkos_2_
Resepte

Fudge-appeltert

(8 – 10 porsies)

  • 200 g (360 ml) koekmeel
  • 100 g botter
  • 45 ml strooisuiker
  • 60 ml yswater
  • 250 ml melk
  • 125 ml room
  • 4 eiergele
  • 2 eiers
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 75 g (95 ml) suiker
  • 6 appels, geskil en ontklok

Fudge-sous

  • 170 g fudge
  • 125 ml melk

Verhit oond tot 180 °C.

Plaas meel, botter en suiker in voedselverwerker. Verwerk op hoë spoed tot mengsel soos growwe seesand lyk. Voeg water by en meng tot alles in een bal saamkom. Draai deeg toe in kleefplastiek en laat rus in yskas vir 20 minute of tot ferm.

Sprinkel dun lagie meel op werkoppervlak en rol deeg tot sowat 3 mm dik uit. Voer ’n broodpan van 35 x 15 cmmet bakpapier uit en spuit goed met kleefwerende kossproei. Voer uit met deeg. Bak blind (sien wenk onder) vir 15 minute. Haal rys en bone uit en bak verder tot goudbruin, sowat 5 minute.Verlaag oond se temperatuur tot 160 °C. Klits melk, room, eiergele, eiers, vanielje en suiker saam tot goed gemeng. Gooi deur ’n sif in die kors. Gebruik ’n skerp mes en maak dun snytjies sowat ¾ in die appel in aan die stingelkant van elke appel. Sit appel met gesnyde kant na bo in die vlamengsel. Plaas broodpan in oondbak en vul oondbak tot halfvol met warmwater. Bedek met foelie en bak vir 50 – 60 minute of tot vulsel gestol is soos jellie.

Haal uit oond, laat effens afkoel en sit in yskas.

Fudge-sous

Plaas fudge en melk in middelslag-pot en smelt oor matige hitte tot gladde mengsel. Haal afgekoelde tert versigtig uit pan en sit voor met fudgesous.

Herman se wenk

Blind bak beteken jy voer die kors met bakpapier uit en gooi dan rou rys of bone bo-op. Dit word halfpad deur die bakproses verwyder. Die kors word dan verder tot goudbruin gebak soos in die resep hierbo, of met die vulsel in.

Pastei vs.tert

’n Pastei het twee korse, een onder en een wat die vulsel bedek. Dis meestal broskors, maar kan ook blaardeeg of ’n krummellaag wees. ’n Tert kan met of sonder ’n kors wees, maar het nooit ’n kors bo-op die vulsel nie.