sr1209hoofkos_2_
Resepte

Garnaalslaai met bros eier

Genoeg vir 6

  • 60 ml olyfolie
  • 2 brandrissies, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • hand vol koljander, fyngekap
  • 2 lourierblare, grofgebreek
  • 12 steurgarnale, doppe verwyder en skoongemaak
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 60 ml witasyn
  • 7 eiers
  • 60 ml koekmeel
  • 150 g broodkrummels
  • sonneblomolie vir diepbraai
  • 400 g aspersies, gedompel in kookwater vir ’n minuut
  • 2 lemoene, segmente losgesny

Meng olyfolie, rissies, knoffel, koljander en lourierblare. Voeg garnale by en meng goed. Verhit braaipan tot warm en braai garnale vir 5 – 8 minute of tot goudbruin en gaar.Geur met sout en
swartpeper.Hou eenkant. Bring pot met water tot kookpunt en gooi asyn by. Breek 6 eiers een vir een in water en posjeer vir 3 – 5 minute of tot die geel medium-sag is. Laat afkoel.

Klits oorblywende eier liggies in klein bakkie. Rol geposjeerde eiers in koekmeel, dan in geklitste eier en laaste in broodkrummels. Verhit sonneblomolie tot warm en diepbraai eiers vir 20 – 30 sekondes of tot goudbruin en bros. Dreineer op kombuispapier. Pak aspersies en lemoen-segmente op opdienbord, gevolg deur die garnale. Sit bros eiers bo-op en sit voor.

Wenk

Jy kan die garnale met stukkies vis of calamari vervang, of heeltemal weglaat vir ’n vegetariese opsie.