Resepte

Gebakte risotto

(4 porsies)

  • 1 gaar hoender
  • 3 hande vol arborio-rys
  • 750 ml goeie hoenderaftreksel (sien resep hiernaas)
  • 2 sprietuie, in klein skywe gesny
  • 100 g gerasperde parmesaankaas
  • 45 ml botter
  • 2 hande vol babaspinasie
  • sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
  • 250 g geel kersietamaties
  • 15 ml swart balsemasyn

Plaas die rys en hoenderaftreksel in ’n kastrol. Meng goed en maak toe met ’n deksel of tinfoelie. Plaas die kastrol in ’n warm oond teen 180 °C vir 40 minute tot die aftreksel amper geabsorbeer is. Roer elke nou en dan. Plaas intussen die kersietamaties op ’n bakplaat en gooi die balsemasyn oor. Plaas dit vir sowat 10 minute (totdat die vel begin bars) langs die kastrol in die oond. Hou eenkant warm. Vlok die hoender van die karkas af en breek in groot stukke. Roer die hoender, sprietuie, botter, parmesaankaas en spinasie deur die risotto. Geur met sout en vars gemaalde swartpeper en garneer met die kersietamaties. Sit dadelik voor.


Sit voor saam met

Ekstra gerasperde parmesaankaas en ’n groenslaai.

Resep vir hoenderaftreksel

’n Lekker risotto hang baie keer af van die aftreksel wat jy gebruik. Omdat jy die hoender van die been afhaal, stel ek voor jy maak jou eie aftreksel.

  • 2 of meer hoenderkarkasse en oorblyfsels
  • 1 lourierblaar
  • 5 ml swartpeperkorrels
  • hand vol pietersielie
  • 3 gekapte knoffelhuisies
  • 2 uie, fyngekap
  • 4 wortels, in stukke gesny
  • 3 selderystingels

Kap die hoenderkarkas in stukke en plaas saam met die res van die bestanddele in ’n pot. Bedek met koue water. Bring die mengsel tot kookpunt en draai die temperatuur af sodat dit stadig, onbedek vir ongeveer 3 uur prut. Skep elke nou en dan die skuim af. Verwyder die hoender en gooi die aftreksel deur ’n fyn sif. Skep enige oortollige vet af. Die hoenderaftreksel is nou gereed om gebruik te word, of jy kan dit vries.


Wenk

Meet die aftreksel af (bv. 250 ml) en gooi in deurskynende plastieksakkies met die volume daarop aangebring. Sodoende hoef jy nie elke keer al die aftreksel te ontdooi en weer te vries nie. Kook die gefiltreerde aftreksel langer as jy dit meer gekonsentreerd wil hê