Resepte

Gebraaide brood met soetrissies en eiervrug

(genoeg vir 6 – 8 mense)

  • 250 g koekmeel
  • 250 g semolina
  • 5 ml sout
  • 1 x pakkie (10 g) kitssuurdeeg
  • 15 ml suiker
  • 315 ml louwarm water

Meng die meel, semolina, sout, suurdeeg en suiker saam in ’n groot mengbak. Maak ’n holte in die middel van die meel en voeg die water by. Maak aan tot ’n stywe deeg. Gooi nou nog ’n bietjie meel uit op jou werkoppervlak. Knie die deeg vir sowat 10 minute tot lekker elasties. Plaas die deeg terug in ’n skoon bak en smeer ’n klein bietjie olyfolie oor – net om seker te maak die deeg droog nie uit nie. Maak toe met ’n kombuislap of kleefplastiek. Plaas die bak op ’n warm plek en laat die deeg rys tot amper dubbel sy grootte. Knie die deeg nou weer af en vorm die broodin ’n ovaalvorm. Plaas die brood op ’n bakplaat wat goed bestrooi is met meel. Strooi nog meel bo-oor en laat weer op ’n warm plek rys. Jou kole moenie te warm wees nie, anders gaan die brood brand en nog rou in die middel wees. Plaas die brood direk op die rooster en laat eers aan die een kant braai voor jy dit omdraai.

Vir die groente bo-op

Gebruik geel en rooi soetrissies en 1 eiervrug. Sny die soetrissies in die helfte en verwyder die pitte. Sny die eiervrug in die lengte in dun skywe. Sprinkel albei met olyfolie en plaas op die rooster. Braai die groente vinnig en draai om sodat dit aan weerskante kan braai. Sodra dit reg is, plaas dit in ’n bak en bedek dadelik met kleefplastiek. Die groente sal sweet en sag word. Wanneer jou brood gaar is, plaas die groente boop en sprinkel nog olyfolie oor.


Sit voor saam met

Hoendertjies. Sit ook ‘n bakkie met olyfolie en balsemasyn daar neer, want dis heerlik om die brood te breek en daarin te doop.