Resepte

Gedraaide ‘fusilli’-pasta Vongole

Gebruik die hoeveelheid tamatiesous soos in die resep hieronder. Ek het die fusillipasta vir die gereg gebruik, maar moet sê spaghetti werk net so goed. Kook die pasta van jou keuse volgens die aanwysings op die pak. Die sous gaan lê lekker tussen die groewe van die fusilli; dit is hoekom ek dit gebruik. Voeg 2 blikke gapermossels en 100 ml room by die tamatiesous. Laat verder vir 10 minute kook.  Dreineer pasta en meng sous met pasta. Sit onmiddellik voor. Hierby kan jy gerasperde Pecorino- of Parmesaankaas voorsit.

Basiese tamatiesous-resep
Ek verdubbel die resep dikwels, sodat ek die helfte kan vries vir ’n ander keer.

  • 3 blikke gekapte tamaties
  • 1 groot ui, fyngekap
  • 3 vars knoffelhuisies, fyngedruk
  • 250 ml rooi- óf witwyn 
  • 1 sakkie/50g tamatiepasta
  • 10 ml gemengde droë kruie of vars origanum
  • 10 ml sout
  • 5 ml suiker
  • vars gemaalde swartpeper na smaak

Braai die ui en knoffel saam in ’n bietjie olyfolie. Voeg die tamaties by en roer dit goed deur. Voeg die res van die bestanddele by. Roer en sit die deksel op en laat dit kook vir sowat 2 uur oor ’n lae temperatuur.


Om te drink

Die Vongole-sous kan effe aan die soet kant wees en die Mozzarella-balle, brandrissie en basiliekruid het weer ’n speseryagtige byt.  Perfek vir ’n vrugtige wyn soos Weisser Riesling (Klein Constantia), Viognier (Graham Beck) of Gewürztraminer (Paul Cluver).