Resepte

Gerasperde pastaslaai

Moet asseblief nie afgeskrik word omdat boerbone (broad beans) in die slaai gebruik word nie; ek gee jou ’n alternatief. Omdat dit ’n slaai is, gebruik ’n mens die helfte van die hoeveelheid pastadeeg. Boerbone – ek was gelukkig om varses te kry; jy kan dit deur ertjies vervang.

(6 porsies)

  • 1/2 e hoeveelheid pastadeeg (sien verwante artikels)
  • 600 g boerbone
  • 100 g rooi kersietamaties
  • 100 g geel kersietamaties – as jy nie geel kry nie, gebruik rooies
  • 100 g swart olywe
  • 100 ml olyfolie
  • sap van 1 suurlemoen
  • 1 huisie knoffel, fyngedruk
  • sout en peper na smaak

Kook die boerbone vir 4 minute in kookwater. Verwyder die peul. Sny die tamaties in die helfte en druk versigtig die pitte en sap uit. Ontpit olywe as jy wil; dit is nie nodig nie, maar maak dit net makliker om te eet. Kook water in ’n kastrol (onthou om ’n bietjie olie en sout by te voeg). Rasper die deeg oor die kookwater. Laat letterlik vir 1 minuut kook. Gooi deur ’n sif en dan onmiddellik in ’n bak, en sprinkel olyfolie oor om dit net te bedek. Wanneer afgekoel, roer dit versigtig met ’n vurk. Meng al die bestanddele nou saam, geur met sout en peper en sit voor. Hou net almal se gesigte dop wanneer jy hulle vertel dat dit gerasperde pasta is.

Hoe rasper ek pasta?
Ek glo vas dis iets wat ek self ontdek het. Dit is ’n eerste en iets waarmee ek nog verder gaan eksperimenteer. Sorg dat die water kook, rasper die pasta oor die kookwater en gooi dit ná ’n minuut deur ’n sif. Gooi dadelik olyfolie oor, sodat die pasta nie aan mekaar vassit nie.

Alles wat jy wil weet oor boerbone
Boerbone (broad beans) is iets wat jy nie maklik in Suid Afrika kry nie. Woolworths kry soms vars boerbone in, maar jy kan nie daarop staatmaak nie. Ek het ’n wonderlike alternatief gekry – gebottelde boerbone. Die ander dag het ek in Pick ’n Pay in Kaapstad gebottelde en geblikte boerbone raakgeloop. Die mense in die winkel het waarskynlik gedink ek het die kluts kwytgeraak, maar dit was soos om ’n Kersgeskenk te kry wat jy al so lankal wou hê.