Resepte

Gerookte forel-patee

  • 200 g gerookte forel
  • 250 g roomkaas
  • 15 ml suurlemoensap
  • sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
  • vars vinkel-takkies vir garnering
  • 1 bottel (100 g) swart viseiers

Gebruik net 100 g van die gerookte forel. Breek dit in groot stukke en plaas in jou voedselverwerker. Voeg die roomkaas en suurlemoensap by. Meng goed. Geur met sout en vars gemaalde swartpeper. Skep die mengsel uit in ’n bak en maak toe met kleefplastiek. Plaas die patee in die yskas.

Gebraaide broodjies

  • 6 snye witbrood
  • 100 ml olyfolie
  • 1 heel knoffelhuisie

Sny die korsies van die brood af. Sny nou elke sny brood in 4 driehoeke. Verhit die olyfolie saam met die knoffelhuisie in ’n pan. Die knoffel sal die olie lekker geur. Braai die brood weerskante tot mooi bruin en dreineer op kombuispapier.


Om voor te sit

Gebruik klein bakkies en skep van die patee in elkeen. Gebruik die ander 100 g van die gerookte forel en plaas ’n stukkie bo-op die patee. Skep ’n eetlepel vol viseiers bo-op en garneer met ’n takkie vars vinkel. Plaas ook ’n gebraaide broodjie in elke bakkie.