sr0904paasfees03
Resepte

Gerookte snoektert

Deeg

  • 200 g (360 ml) koekmeel
  • 100 g (110 ml) botter, in blokkies gesny
  • 2 – 3 eetlepels koue water

Plaas die koekmeel en botter in jou voedselverwerker. Meng tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg die koue water lepel vir lepel by tot dit ’n deeg vorm. As die deeg te droog is, voeg nog ’n klein bietjie koue water by. Maak deeg toe met kleefplastiek en plaas in die yskas vir sowat 30 minute. Rol dun uit op ’n meelbestrooide oppervlak en voer ’n gesmeerde tertbak van 18 – 20 cm in deursnee daarmee uit.

Vulsel

  • 30 ml botter
  • 1 ui, fyngekap
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 600 g gerookte snoek, gevlok en grate verwyder
  • 3 eiers
  • 250 ml room

Verhit jou oond tot 180 °C. Smelt die botter in ’n pan en voeg die ui en knoffel by. Braai tot sag en deurskynend. Haal die pan van die hitte af en meng die ui-mengsel met die gevlokte snoek. Plaas die vulsel in die uitgevoerde tertbak en klits die eiers en room saam. Gooi die eiermengsel oor die vulsel  en plaas in die warm oond. Bak vir 50 minute tot die vulsel gestol is.