Resepte

Gerookte varkvleis en lensies

(6 porsies)

  • 1 kg gerookte varklies, in dik skywe van sowat 3 cm gesny
  • 1 gerookte varkskenkel (Eisbein)
  • 2 wortels, in blokkies gesny
  • 3 preie, in skywe van sowat 2 cm dik gesny
  • 1 ui, met sowat 6 naeltjies ingedruk
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 2 lourierblare
  • 3 takkies vars tiemie
  • 3 takkies vars origanum
  • 500 g swart lensies (afgespoel)
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • ‘n hand vol pietersielie, fyngekap

Plaas die vleis, wortels, preie, ui, knoffel, lourierblare, tiemie en origanum in ’n groot kastrol. Vul met koue water tot als net-net bedek is. Bring tot kookpunt en laat prut (maak toe met ’n deksel) vir 1 uur 15 minute. Moenie nog sout byvoeg nie, anders sal die lensies nie sag kook nie. Voeg dan die lensies by en kook nog 45 minute totdat die lensies sag is. Wanneer lensies sag is, verwyder die ui en gooi weg. Haal die Eisbein en varklies-skywe versigtig uit. Verwyder die vel van die Eisbein en vlok die vleis in stukke van die been af. Gooi die lensies en groente deur ’n sif – sit ’n bak onder om die sous te behou. Meng die gevlokte Eisbein met die lensies en geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Plaas dit op ’n warm opdienbord. Rangskik die varkliesrepe bo-op en bedruip met ’n bietjie van die sous. Sprinkel die gereg met gekapte pietersielie.