Resepte

Geroosterde aartappels

(6 porsies)

  • 12 aartappels, geskil
  • 1 teelepel sout
  • 250 ml sonneblomolie
  • growwe sout na smaak

Skil die aartappels. Plaas dit in ’n kastrol met koue water en bring tot kookpunt. Voeg ’n teelepel sout by en laat vir 5 minute stadig kook. Dreineer en krap die aartappels met ’n vurk. Voorverhit jou oond tot 220 °C. Gooi die olie in ’n groot oondbak. Plaas die oondbak vir 5 minute in die oond sodat die olie warm word. Plaas die aartappels in die olie en draai om sodat dit bedek word met die olie. Sit terug in die oond en draai eers na 30 minute om as dit bruin is aan die een kant. Laat aan die ander kant rooster – vir nog 30 minute. Verminder die temperatuur tot 200 °C en laat nog 30 minute rooster. Draai die aartappels elke nou en dan om en bedruip met die olie. Dreineer op kombuispapier en maal growwe sout oor. Sit onmiddellik voor.

Pleks van geroosterde aartappels?

Jy kan natuurlik aartappels in dieselfde bak as die hoender gaarmaak. Skil die aartappels en sit so ’n uur en 15 minute in die oondbak. Bedek die aartappels met die sous van die hoender, en draai hulle halfpad om. Die aartappels sal mooi bruin word, maar onthou, dit sal nie bros word soos geroosterde aartappels nie.