Resepte

Geroosterde hoender-en-aartappel-broodjie

(1 porsie)

  • 1 aartappel, in dun skywe gesny
  • 4 baba-uie, geskil en gehalveer
  • 1 hand vol tiemie, roosmaryn en origanum, gekap
  • 2 hoenderborsies, grofgekap
  • 1 suurlemoen se sap en skil
  • 30ml olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 45ml mayonnaise
  • 1 klein Franse brood (baguette)
  • 1 hand vol slaaiblare van jou keuse
  • parmesaan-skaafsels

Verhit oond tot 200ºC. Sit aartappels, uie en kruie in ‘n oondvaste bak. Sit hoender bo-op. Sprinkel suurlemoensap, -skil en olyfolie oor. Geur goed met sout en swartpeper. Oondrooster vir 20 minute of tot goudbruin en gaar. Meng knoffel en mayonnaise. Sny brood in die lengte deur en smeer helfte van knoffelmayonnaise daarop. Sit slaaiblare op die brood, gevolg deur aartappels, hoender en nog mayonnaise. Sprinkel parmesaan oor en sit voor.

Wenk: Dis nogal ‘n groot porsie – jy kan altyd die een helfte die volgende dag inpak werk toe.