Resepte

Geroosterde soetrissie en tamatiesop (voorgereg)

(6 porsies as voorgereg)

  • 5 rooi soetrissies
  • 300 g klein rosa-tamaties
  • 4 knoffelhuisies
  • olyfolie
  • 125 ml room
  • sout en vars gemaalde swartpeper

Verhit jou oond tot 200 °C. Plaas die 6 rooi soetrissies en knoffelhuisies op ’n bakplaat. Bedruip met ’n klein bietjie olyfolie en plaas in die oond. Laat die soetrissies sowat 45 minute lank rooster. Wanneer die soetrissies lekker swart is, haal uit die oond, sit dit in ’n bak en maak toe met kleefplastiek. Hou die knoffelhuisies eenkant. Laat die soetrissies vir 15 minute sweet. Plaas intussen die rosa-tamaties op ’n bakplaat en bedruip met ’n bietjie olyfolie. Rooster die tamaties vir so 10 – 15 minute in die oond totdat die vel bars. Haal die soetrissies uit die bak en verwyder die vel. Sny oop en verwyder die pitte. Plaas die soetrissies, tamaties en knoffel in ’n versapper. Verpulp tot ’n gladde pasta. Gooi die pasta in ’n kastrol en voeg die room by. Geur met sout en vars gemaalde swartpeper. Jy kan nou die sop in die yskas bêre totdat jy dit wil voorsit. Verhit die sop net tot kookpunt. Garneer die sop met vars basiliekruidblare, geroosterde tamaties, parmesaankaas-skywe en crostini.

Gaan koop ’n Franse brood en sny dit in skywe. Verhit jou oond tot 200 °C. Pak die snye brood op ’n bakplaat en bedruip met olyfolie. Plaas in die oond vir ongeveer 20 – 30 minute. Die broodjies moet lekker bros wees. Wanneer dit reg is, haal uit en smeer met ’n vars huisie knoffel. Die knoffel sal die broodjies geur.