Resepte

Geroosterde vark met kool-salsa

2 porsies

  • 1 ontbeende varkrol
  • 4 knoffelhuisies
  • 30 ml olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 groen appel
  • 100 g wit kool, grofgesny
  • 1 klein ui, fyngekap
  • 1 brandrissie, fyngekap
  • 15 ml suurlemoensap
  • 15 ml witwynasyn

Verhit oond tot 200 ˚C. Gebruik ’n skerp mes en steek 4 gate onderin varkrol. Druk knoffel daarin. Sny vlak snytjies in bo-laag van varkrol en plaas op ’n bakplaat. Gooi olyfolie oor en geur baie goed met sout en swartpeper. Bak vir 30 minute, draai hitte af na 180 ˚C en bak tot gaar, sowat 20 minute.

Vir die salsa: Halveer appel en sny stronk uit. Sny in dun repies. Meng appel met kool, ui, rissie, suurlemoensap en asyn. Geur met sout en swartpeper. Haal vleis uit oond en laat rus vir 5 minute. Sny in skywe en sit warm voor met koolsalsa.

Wenk

Om seker te maak die vetlaag word lekker krakerig en bros moet jy genoeg sout oorgooi.