burger_3
Resepte

Geroosterde groente en ricotta-pizza

(2 groot pizzas)

  • 5 murgpampoentjies, in ringe gesny
  • 2 patats, geskil en in growwe blokkies gesny
  • ½ botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
  • 1 rooi-ui, in kwarte gesny
  • 250 g bruin sampioene, gehalveer
  • 15 ml olyfolie
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • hand vol tiemie, fyngekap
  • sout en varsgemaalde swartpepper
  • 1 x rogrolletjie-deeg (of klaar winkelbasis)
  • 1 x tamatie-basissous
  • 250 g ricotta-kaas

Verhit oond tot 200 ºC.

Plaas al die groente in oondbraaipan. Sprinkel olyfolie, knoffel en tiemie oor. Geur goed. Oondbraai oop vir 20 – 25 minute of tot groente sag en gaar is.

Verdeel deeg in twee porsies en rol op meelbestrooide oppervlak uit tot sowat 5 mm dik. Plaas op bakplaat wat gespuit is met kleefwerende kossproei.

Verdeel tamatiesous tussen basisse. Sprinkel groente op pizzas. Krummel ricotta oor. Geur goed. Plaas in warm oond en bak 15 – 20 minute of tot goudbruin en gaar.

Stapel pizza so

Dis die ding van pizza – jy eet lag-lag ’n hele een op, veral as die basis lekker dun is . . . maar dis gelyk aan ’n hele paar snye brood. Hierdie resep se basis is so goed soos 3 snye brood! Die kuns is om die “bekende laevet-geure” van ’n pizza te stapel – ansjovis, mozzarella (wat minder vet kan bevat as ander harde kase) en natuurlik knoffel en tamatie – en dan stadig te eet. knoffel en tamatie is baie gesond en kan vrylik gebruik word.

Jy kan selfs die stapel nog meer uitbrei, bv. geroosterde rissies/ artisjokke, sampioene en olywe, om sodoende die pizza meer volume te gee – wat beteken jy sal vinniger “vol” voel. dis ook ’n goeie idee om as “voorgereg” ’n lekker italiaanse slaai te eet – blare, tamatie, olywe, gerasperde wortel en ui. Dit stil die ergste honger, sodat jy stadiger eet.

Probeer om nooit meer as die helfte van ’n pizza te eet nie. Hou die ander helfte vir môreoggend se ontbyt.

*Bron Mariza van Zyl

www.betereet.co.za