Resepte

Gestopte baba-hoenders

Omdat dit al vleis vir Kersfees op ons spyskaart is, maak dan so 4 hoenders gaar vir 8 mense. Die vulsel behoort ook genoeg te wees vir 4 groot hoenders.

  • 8 baba-hoenders
  • 1 witbrood
  • 2 hande vol vars salie
  • 100 g pistasieneute, grofgekap
  • 2 uie, fyngekap
  • 3 huisies knoffel, fyngedruk
  • 100 g botter
  • 8 snye parmaham
  • olyfolie
  • sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Sny die korsies van die brood af. Kap die brood fyn in jou voedselverwerker – jy moet broodkrummels maak. Kap die salie fyn. Smelt die botter en braai die 2 fyngekapte uie en knoffel tot sag en deurskynend. Braai oor ’n stadige hitte – as die temperatuur te hoog is, sal die botter brand en dit wil jy beslis nie hê nie. Voeg die gekapte salie, pistasieneute en broodkrummels by. As die mengsel te droog lyk, smelt nog botter en voeg dit by. Geur met sout en vars gemaalde swartpeper. Stop elke hoender met die vulsel. Gooi ’n bietjie olyfolie in ’n oondbak en sit die hoenders in. Jy kan ook nog ’n paar takkies vars salie in die bak sit. Geur elke hoender met sout en vars gemaalde swartpeper en sit ’n parmaham bo-op die hoender. Gooi nog ’n bietjie olyfolie oor en maak die bak toe met tinfoelie (onthou, blink kant na binne). Plaas in ’n voorafverhitte oond teen 180 °C. Haal die tinfoelie ná 1 uur af en laat verder mooi bruin rooster – minstens vir nog ’n uur. Jy kan elke nou en dan die hoendertjie met die sappe in die oondbak bedruip.