Resepte

Gevulde hoender

(6-8 porsies)

  • 2 heel hoenders (verkieslik skrop-hoenders)
  • 6 groot wituie
  • sowat 100 ml olyfolie
  • sap van 2 suurlemoene
  • sout en vars gemaalde swartpeper
  • hand vol vars salieblare

Stap 1:
Plaas die hoender op die maag om die rugkant oop te sny. Sny met ’n skerp mes deur die vleisgedeelte op die rug.

Stap 2:
Verwyder die stuitjie.

Stap 3:
Sny die rug van die hoender oop. Gebruik ’n kombuisskêr – dit is makliker.

Stap 4:
Gebruik ’n klein skerp messie en sny die karkasgedeelte van die hoender los. Wanneer jy by die boudjies en vlerkies kom, sny die litgedeelte van die bene deur. Jy moet net die karkas verwyder.

Stap 5:
Laat die hoender plat lê.

Stap 6:
Skep die vulsel bo-op.

Stap 7:
Maak die hoender toe en steek met tandestokkies vas.

Stap 8:
Draai die hoender versigtig om sodat die rug (die deel wat met die tandestokkies vas is) onder lê. Skep nog vulsel in.

Stap 9:
Vou die hoender se bene oorkruis en maak vas met tou. Plaas in ’n oondbak. Bedruip die hoender met suurlemoensap.

Plaas die uie om die twee hoenders en gooi die olyfolie oor die hoenders en uie. Geur met sout en swartpeper. Breek die salieblare grof en gooi oor. Bak teen 180 °C vir sowat 1½ uur. Bedruip elke nou en dan of gebruik ’n kwas om die hoender te smeer.

Vulsel

  • ¾ witbrood
  • 400 g repe spek, in klein blokkies gesny
  • 8 sprietuie, fyngekap
  • hand vol pietersielie
  • 200 g pekanneute
  • 200 g botter
  • 1 eetlepel fyngekapte knoffel
  • sout en vars gemaalde swartpeper

Breek die brood in stukke en plaas in jou voedselverwerker. Kap die brood fyn tot krummels. Plaas die broodkrummels in ’n bak. Kap die pietersielie en neute fyn in jou voedselverwerker (jy hoef dit nie te was nadat die broodkrummels fyngemaak is nie). Smelt ’n klein stukkie van die botter en braai die spek lekker bros. Voeg die knoffel en gekapte sprietuie by en braai vir 5 minute. Voeg die res van die botter by en laat smelt. Gooi die broodkrummels, neute en pietersielie by en meng goed. Geur met sout en swartpeper.