Resepte

Gevulde hoenderborsies

(10 porsies)

  • 12 hoenderborsies met vel
  • 700 g ricottakaas
  • 350 g gevriesde spinasie, fyngekap
  • 2 huisies knoffel, fyngekap
  • 1 ui, fyngekap
  • 15 ml botter
  • 1 eier
  • sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
  • sap van 1 suurlemoen

Ontbeen die hoenderborsies. Smelt die botter in ’n pan. Braai die ui en knoffel saam tot net deursigtig. Voeg die gekapte spinasie by en braai vir 5 minute. Geur met sout en swartpeper. Gooi die mengsel in ’n bak en voeg die ricottakaas by. Meng goed en geur met nog sout en swartpeper indien nodig. Voeg die eier by en meng goed. Maak ’n sakkie met jou vinger onder die hoendervel. Stop die hoender met die vulsel – met ander woorde tussen die vel en die vleis. Vou die twee punte van die hoender na mekaar – dit sal soos ’n bal lyk. Pak al die hoenderborsies styf teen mekaar in ’n oondbak – so sal die hoenderborsies hul vorm behou. Gooi die suurlemoensap oor en geur met sout en swartpeper. Plaas in vooraf verhitte oond teen 180 °C vir 45 minute. Laat in die pan afkoel voor jy die borsies in die helfte sny.