Resepte

Gevulde lamslende

(6 porsies)

Vulsel

Jy benodig

  • 250 g sampioene
  • 1 klein ui, fyngekap
  • 30 ml olyfolie
  • 125 g repiespek, in klein blokkies gesny
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 4 snye witbrood, gekrummel hand vol pietersielie, fyngekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 eier, geklits

Kap die sampioene en ui baie fyn in jou voedselverwerker. Verhit die olyfolie in ’n pan en braai die spek tot baie bros. Voeg die knoffel, ui en sampioene by. Braai verder vir sowat 5 minute. Gooi die broodkrummels en pietersielie by. Geur met sout en swartpeper. Laat afkoel. Voeg die geklitste eier by en meng goed.

Lamslende-rol

Jy benodig

  • 1 kg lamslende-rol (dit sal gewoonlik twee stukke wees)
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 250 g repiespek

Verhit jou oond tot 180 °C. Geur die lam met sout en swartpeper. Maak die vulsel (bo). Sit die lamslende op ’n groot stuk foelie. Plaas van die vulsel in die middel van die vleis. Vou die vleis sodat dit ’n rol vorm. (Jy sal nie die vleis heeltemal kan toerol nie.) Rol die repiespek om die lam sodat dit heeltemal bedek is. Bind die rol met tou vas sodat dit sy vorm behou. Vou die tinfoelie styf om die rol. Plaas in die warm oond vir 30 minute. Berei intussen jou groente.