Resepte

Gnocchi met tamatiesous en gapermossels

(6 – 8 porsies)

  • 1 kg aartappels, geskil
  • 250 g meel
  • 100 g ongesoute botter

Bring ’n groot kastrol met water tot kookpunt en voeg die aartappels by. Laat kook tot sag. Dreineer die aartappels en druk dit onmiddellik deur ’n aartappel-fyndrukker. Gooi die fyn aartappels in ’n groot mengbak en voeg die botter by. Voeg die meel by en meng goed. Strooi taamlik baie meel op jou werkoppervlak. Maak lang rolle van sowat 3 cm dik en sny die rolle in stukke van sowat 2 cm lank. Druk elke stuk effens plat met ’n vurk – dit maak ’n patroon op die gnocchi. Plaas die stukke op ’n bakplaat, wat ook met meel bestrooi is. Bring ’n kastrol water tot kookpunt. Plaas die gnocchi versigtig in die kookwater. Wanneer die gnocchi na bo kom, is dit reg. (Dit neem sowat 3 – 4 minute.) Skep die gnocchi versigtig uit met ’n gaatjieslepel. Sit voor saam met die volgende sous:

Tamatiesous met gapermossels

Jy benodig

  • 500 ml tamatiesous-resep
  • 2 blikke gapermossels (baby clams)
  • 125 ml room
  • gerasperde parmesaan-kaas
  • vars gemaalde swartpeper

Gebruik die resep vir die 500 ml tamatiesous. Wanneer die sous amper reg is, voeg die gapermossels en room by. Laat nog sowat 15 minute kook en sit voor saam met die gnocchi. Geur met gerasperde parmesaan-kaas en vars gemaalde swartpeper.

Tamatiesous (salsa di pomodora)

Kook hierdie tamatiesous en jou Italiaanse kookkuns is halfpad gewonne. Ek gee dit in twee hoeveelhede sodat jy genoeg het om te vries. En gebruik gerus geblikte tamaties.

(vir 500 ml)

  • 30 ml olyfolie
  • 2 uie, fyngekap
  • 750 g geblikte heel Italiaanse tamaties
  • 125 ml rooiwyn
  • 40 ml tamatiepasta
  • 40 ml vars gekapte basiliekruid of 5 ml droë basiliekruid
  • 5 ml suiker
  • sout en vars gemaalde swartpeper na smaak (vir 1 liter)
  • 60 ml olyfolie
  • 3 uie, fyngekap
  • 750 g geblikte heel Italiaanse tamaties
  • 250 ml rooiwyn
  • 80 ml tamatiepasta
  • 80 ml vars gekapte basiliekruid of 10 ml droë basiliekruid
  • 10 ml suiker sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Verhit die olyfolie in ’n groot kastrol. Voeg die gekapte uie by en laat stadig braai tot deurskynend en sag. Voeg die res van die bestanddele by en geur met sout en vars gemaalde swartpeper. Laat die mengsel stadig kook vir sowat 1½ uur met die deksel effens oop, terwyl jy dit elke nou en dan roer. Druk nou die sous deur ’n sif of gebruik ’n elektriese verpulper. Geur weer indien nodig.