Resepte

Groen appelsorbet in blom-ysbak

  • 6 Granny Smith-appels
  • sap van 1 suurlemoen
  • gerasperde skil van 1 suurlemoen
  • 200 g strooisuiker

Verwyder die pitte van die appels en sny in dun skywe. Kap die appels fyn in jou voedselverwerker. Gooi die gekapte appel in ’n groot bak en voeg die res van die bestanddele by. Laat staan vir so 20 minute. As jy ’n roomysmasjien het, volg die aanwysings, of gooi die mengsel in ’n plat bak wat geskik is vir die vrieskas. Roer so elke halfuur tot die sorbet gevries is. Sit voor in die blomysbak – en wag vir die  komplimente.

Maak jou eie ysbak
Dis makliker as wat dit lyk. Om jou sorbet in só ’n ysbak voor te sit sal die asems wegslaan – so mooi is dit. Jy het die volgende nodig: 2 bakke – een so 4 cm kleiner as die ander (ek het emaljebakke gebruik) water (gebruik gekookte water wat afgekoel het) blomme, blare of kruie – die keuse is joune kleefband

Stap 1: Gooi water onder-in die groter bak, so 3 tot 4 cm diep. Sit die bak in die vrieskas en maak seker dit staan gelyk.
Stap 2: Wanneer die water gevries is, haal uit en plaas die kleiner bak bo-op. Plak die twee bakke met die kleefband teen mekaar vas.
Stap 3: Gooi nou water in die kante van die bak, so halfpad op. Druk blomme, blare of kruie in. Plaas in die vrieskas.
Stap 4: Wanneer gevries, haal uit en maak vol met water. Vries weer. Wanneer solied gevries, haal uit en verwyder die kleefband.
Stap 5: Om die twee van mekaar te kry vryf met ’n warm lap tot hulle loskom. Sit die ysbak terug in die vrieskas tot benodig.