Resepte

Hoe maak ek ravioli?

Gebruik 2 hoeveelhede pastadeeg vir ravioli – dit behoort genoeg vir 6 mense te wees.

Stap 1
Rol die deeg so dun as moontlik uit. Verf water oor die hele pasta-vel. Dit dien amper as ’n gom sodat die pasta kan vassit. Sny dié deel in lang repe – breed genoeg vir jou vulsel bo-op en sodat jy die deeg kan oorvou.

Stap 2
Skep vulsels van jou keuse so 2 cm uitmekaar.

Stap 3
Vou die deeg oor die vulselhopies.

Stap 4
Druk die boonste laag pasta om die vulsel en maak seker al die lug is uit anders kan die kussinkies oopgaan wanneer dit gekook word.

Stap 5
Druk uit, sny vierkante – dit is jou keuse.

Stap 6
Maak seker die rande is styf teenmekaar. Jy wil nie al die moeite doen en dan gaan almal oop wanneer dit gekook word nie.

Stap 7
Maak die 3 verskillende vorms met verskillende vulsels. Die halfmaanvorm maak jy so ’n bietjie anders. Verf ook die pasta met water, maar nou gebruik jy ’n groot koekiedrukker. Jy gaan basies halfmaan-tertjies maak. Skep vulsel op die een helfte, vou oor en druk met ’n vurk vas.

Kook ravioli só
Kook water in kastrol met sout en olie. Plaas die ravioli versigtig in die kookwater. Dit gaan nou ook afhang hoe dik jou pasta uitgerol is hoe lank dit kook. Gee jouself maar ’n goeie 10 minute en toets die kante van een ravioli om seker te maak dit is sag. Moet ook nie alles gelyk kook nie. Sprinkel olyfolie oor wanneer dit uit die kookwater kom en hou warm terwyl die ander kook. Sit voor saam met vars roket, basiliekruid, olyfolie en swartpeper. Skywe Pecorino- of Parmesaankaas is fantasties daarby.