Resepte

Hoender-en-appelkoosterrien

(genoeg vir 10)

  • 4 lourierblare
  • 3 takkies tiemie
  • 250 g strepiespek
  • 1 eier
  • 500 g varkmaalvleis
  • 1 ui, fyngekap
  • 1 hand vol pietersielie, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 250 g hoenderlewers
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 200 g Turkse droëappelkose, grofgekap
  • 400 g kassler-tjops, fyngekap
  • 2 hoenderborsies, ontbeen, vel verwyder en in blokkies gesny

Verhit oond tot 180 °C. Voer ’n broodpan van 35 x 10 cmmet kleefplastiek uit. Plaas lourierblare en takkies tiemie onderin. Voer die pan uit met repies spek, wat jy oor die breedte plaas. Hou spek wat oorbly eenkant. Plaas eier,maalvleis, uie, kruie, knoffel en lewer in voedselverwerker. Verwerk op hoë spoed tot gladde mengsel. Geur goed met sout en peper. Meng appelkose, kassler- en hoenderblokkies by. Skep mengsel in uitgevoerde broodpan. As daar spek oor is, pak dit bo-op. Bedek pan met foelie en plaas in oondbak. Vul bak met warmwater. Plaas in oond en bak vir 90 minute.Haal uit oond en laat in waterbad afkoel. Plaas vir 6 – 8 uur of oornag in yskas. Sit voor met slaai van jou keuse.