Resepte

Hoender en okkerneutpatee

(6 – 8 porsies)

  • 4 hoenderboudjies
  • 4 hoenderdye
  • 30 ml olyfolie
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 10 ml matige kerriepoeier
  • 5 ml borrie
  • 100 g okkerneute
  • 250 ml room
  • vars koljander om te garneer

Verhit jou oond tot 180 °C. Plaas al die hoenderstukke in ’n oondbak met die olyfolie en geur met die knoffel, sout en swartpeper. Rooster in die oond vir sowat 45 minute tot gaar. Haal uit en laat afkoel. Vlok die hoender van die bene af en plaas die vleis saam met die kerriepoeier, borrie, okkerneute en room in ’n voedselverwerker. Meng goed. Die neute moet fyngekap wees. Skep in ’n bakkie en garneer met vars koljander.