sk0409sesuur02
Resepte

Hoender-en-spinasie-pilaf

(30 minute – 4 porsies)

  • 8 ontbeende hoenderborsies, sonder vel
  • 30 ml olyfolie
  • 1 ui, gehalveer en in skywe gesny
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 4 ml fyn komyn
  • 4 ml fyn koljander
  • 300 g basmati-rys
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 600 ml hoender-aftreksel
  • 100 g vars spinasie, gewas en gekap

Sny die hoenderborsies in happie-grootte stukke. Verhit die olyfolie in ’n kastrol, sit die hoender daarin en braai tot bruin. Voeg die ui en knoffel by en braai verder vir 5 minute. Voeg die komyn, koljander en rys by. Geur met sout en swartpeper. Gooi die hoender-aftreksel by en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en maak die kastrol toe met ’n deksel. Laat stadig prut vir 15 minute totdat die aftreksel byna afgekook het en die rys sag is. Roer die gekapte spinasie deur en sit die deksel op totdat die spinasie verlep is. Sit dan voor met blatjang.