Resepte

Hoender-frikkadelle met radys-slaai

(sowat 10 frikkadelle)

  • 1 gaar hoender
  • 1 steel sitroengras
  • 1 groot hand vol vars koljander
  • 5 klein sprietuie
  • 2 knoffelhuisies
  • 15 ml suurlemoensap
  • 15 ml suiker
  • 30 ml sojasous
  • 2 eiers
  • 1 koppie broodkrummels geweek in 75 ml water
  • sout en vars gemaalde swartpeper
  • 10 ml olyfolie

Verwyder eers die vel van die hoender en haal dan die vleis af. Verwyder die harde omhulsel van die sitroengras en kap die sagte middelste deel ruweg op saam met die sprietuie. Plaas die hoendervleis, koljander, gekapte sitroengras, sprietuie, knoffel, suurlemoensap, suiker, sojasous en 2 eiers in ’n voedselverwerker en meng goed. As jy nie ’n voedselverwerker het nie kan jy die bestanddele met ’n lekker skerp mes fynkap. Meng die broodkrummels met jou hande deur en geur met sout en vars gemaalde swartpeper. Vorm balletjies met jou hande en plaas in ’n gesmeerde oondbak. Smeer olie oor die balletjies en bak in ’n oond van 200 ˚C vir ongeveer 30 – 40 minute. Ná sowat 20 minute kan jy die frikkadelle omdraai.

Radys-slaai

(6 porsies)

  • 300 g radyse
  • ½ rooi brandrissie, fyngekap
  • 3 klein sprietuie
  • ¼ komkommer
  • hand vol vars koljander
  • 50 g kasjoeneute (gerooster)
  • 40 ml olyfolie
  • 15 ml suurlemoensap
  • 2,5 ml Dijon-mosterd
  • sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Sny die radyse in twee en kap die brandrissie en sprietuie fyn. Halveer dan die komkommer, skep die sade uit en sny in skyfies. Meng die olyfolie, suurlemoensap, mosterd, sout en swartpeper goed. Meng nou alles saam in ’n slaaibak.


Wenk vir broodkrummels

Gebruik ’n witbrood, of ’n bruinbrood, wat ’n dag of twee oud is. Kap so 4 snye in ’n voedselverwerker fyn. Moenie gekoopte broodkrummels, wat al klaar uitgedroog is, gebruik nie.


Sit voor saam met

Griekse jogurt en gremolata.

(Gremolata: Rasper die skil van een suurlemoen. Kap ’n hand vol pietersielie fyn en meng die bestanddele saam met 1 knoffelhuisie, ook fyngekap.)