Resepte

Hoender-tagine

Hiervoor is een tagine (of oondskottel) en ’n taamlik warm vuur nodig. Die tagine word op die rooster geplaas. Afhangend van hoe groot jou hoender is, sal dit so 90 minute tot 2 uur neem. As jy dit in die oond maak, moet die oond tot 180 °C voorverhit wees en dit duur ewe lank.

  • 350 ml groente- of hoender-aftreksel
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 10 ml sumak (beskikbaar in Indiese spesery-winkels)
  • 1 groen brandrissie, fyngekap
  • 5 ml komynsaad
  • 5 ml fyn kaneel
  • 30 ml lemoenbloeiselwater
  • 1 heel hoender
  • 250 g gedroogde pere
  • 100 g ingelegde suurlemoene (by deli’s)
  • 1 groot ui, in stukke gesny
  • 150 g dennepitte
  • 50 g sultanas
  • groot hand vol vars koljanderblare
  • 1 suurlemoen, in skywe gesny
  • 1 blik kekerertjies (chickpeas), gedreineer
  • 50 g pampoenpitte
  • 15 ml sesamsaad
  • vars roket
  • 4 vars vye, in kwarte gesny

Meng die aftreksel, knoffel, sumak, brandrissie, komyn, kaneel en lemoenbloeiselwater. Plaas die hoender in die middel van die tagine of skottel. Pak al die bestanddele om die hoender, behalwe die sesamsaad, roket en vye. Gooi die aftreksel-mengsel oor. Jy kan ook nóg sumak op die hoender sprinkel. Maak die tagine toe en plaas dit op die kole (of in die oond) vir 1½ tot 2 uur. Haal van die hitte af en garneer met die sesamsaad, vars roket en vy-kwarte.

Om te drink
Raka se 2008-viognier is ryk en volrond. Dit het ’n heerlike suurlemoen-skil-aroma, perfek saam met hierdie tagine!