Resepte

Hoenderborsies gevul met pesto en mozzarella

(4 porsies)

  • 4 ontbeende hoenderborsies, waarvan die vel verwyder is
  • gekoopte pestosous
  • 1 dik stuk mozzarellakaas per hoenderborsie
  • 12 repies repiespek
  • tandestokkies
  • olyfolie

Plaas ’n hoenderborsie tussen 2 lae kleefplastiek en slaan dit met ’n koekroller plat. Ek weet dis terapeuties ná ’n slegte dag, maar moet nou nie die hoender so plat soos ’n pannekoek slaan nie. Smeer sowat 1 teelepel pesto oor die hoender en sit ’n stuk mozzarella in die middel. Rol die hoender toe en maak toe met die spek. Steek met tandestokkies vas en sorg dat veral die kaas toe is. Gebruik ’n pan wat jy in die oond kan sit en braai die hoender tot bruin. Sit die pan in ’n voorafverhitte oond van 180 °C vir ’n verdere 10 minute tot gaar.

 

Sit voor saam met

  • Jong worteltjies, gestoom, langsteel-broccoli, gestoom
  • Langsteelbroccoli

My kinders is nie mal oor broccoli nie, maar hierdie soort eet hulle. Die lekker lê in die steel en dis heerlik saam met die hoenderborsies.