Resepte

Inspirasiekos met SARIE: Heerlike aartappel-geregte

Ek sit vandeesweek my kuier in die Noord-Kaap op soek na die stories agter kos voort. My opgewondenheid om nader met aartappels kennis te maak by Kolver Mülke van die plaas Tambile net buite Kimberley, is byna kinderlik. Vir party ’n verdoemde knol, maar vir my die kroon van die tafel.

1C3B0069

Herman leer meer van aartappels by Kolver Mülke

Interessant is dat daar in die laat 1700’s geglo is dat jy melaats kan word as jy aartappels eet (ek reken daar is party mense wat vandag weer so glo!). Maar hoe kan iets wat ’n AARDappel genoem word dan ongesond wees vir jou. Sy skil is propvol subtiele neutgeure en sy vlees roomsag en soos ’n spons wat wag vir ’n wêreld van geur uit jou hande.

5 dinge wat jy van aartappels wil weet!

1. ’n Middelslag-aartappel bevat byna die helfte van die hoeveelheid vitamien C wat jy  daagliks benodig.

2. Vleis en aartappels gaan perfek saam. Die vitamien C in die aartappels help jou liggaam om die yster in die vleis beter te absorbeer.

3. Aartappels is goeie waarde vir geld, want die komplekse koolhidrate sorg dat jy langer versadig voel.

4. Aartappels hou langer as talle ander groente wat ná ’n paar dae verlep of af raak. As jy aartappels in ’n koel, donker plek bêre, kan hulle so lank as 3 weke vars bly.

5. Jy sal nooit sonder idees vir resepte wees nie. Google verskaf meer as 62 miljoen resultate wanneer jy aartappel-resepte soek.

1C3B0166

Fillo-en-cheddar-aartappelpastei

Hierdie resep kom van my koskollega Barbara Joubert. Sy vertel sy het dit jare terug by die Turkse restaurant Anatoli in die Kaap leer ken. Sy het dit al vir my voorgesit, en glo my, dit het my lewe verander. My ode aan die aartappel begin met Barbara se resep!

genoeg vir 8 – 10

• 4 groot aartappels, geskil
300 g sterk cheddarkaas, gerasper
• 2 eiers, geklits
• 60 ml gekapte pietersielie
• knippie rooipeper, of na smaak
• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
• 6 velle fillodeeg
• sowat 50 ml gesmelte botter
• sowat 150 ml olyfolie
• 30 ml gekapte pietersielie

Kook aartappels tot sag en druk fyn met ’n vurk (daar kan nog stukke in wees). Voeg kaas, eiers en pietersielie by. Geur met rooipeper, sout en peper. Plaas een vel fillodeeg op jou werkvlak en smeer met gesmelte botter. Plaas ’n tweede vel deeg bo-op en smeer weer met gesmelte botter. Herhaal met ’n derde vel. Skep van die aartappelvulsel sowat 5 cm van onderkant van deeg in ’n lang wors. Vou deeg oor vulsel. Vou kante weerskante oor vulsel en rol op. Herhaal met die res. Maak toe met kleefplastiek en laat koud word in yskas. Sny koue rol in skywe van sowat 3 cm. Verhit olyfolie in pan en braai sirkels weerskante vir sowat 3 minute. Dreineer op kombuispapier. Sprinkel gekapte pietersielie oor en sit warm voor.

1C3B0131

Groen aartappelslaai

Aartappelslaai met nuwe geure en smake – probeer dit, dis regtig lekker!

genoeg vir 6

• 400 g Franse groenbone, gedompel in kookwater
• 200 g suikerertjies, gedompel in kookwater
• 200 g sneeu-ertjies (mange tout), fyngesny
• 500 g aartappels, geskil
• 45 ml olyfolie
• 250 g spek, grofgesny
• 1 x 165 g-houer basiliepesto
• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Dompel groenbone en suikerertjies in kookwater vir 30 sekondes. Dreineer en hou eenkant saam met rou sneeu-ertjies. Plaas aartappels in pot met koue water en bring tot kookpunt. Kook vir 15 – 20 minute of tot aartappels sag maar nie pap is nie. Maak intussen die sous. Verhit olyfolie tot warm in braaipan en braai spek tot goudbruin en bros, sowat 5 – 8 minute. Voeg pesto by en meng deur. Dreineer gaar aartappels en sny in blokkies (jy kan self besluit hoe groot) en voeg by pesto-mengsel. Voeg bone by en geur goed met sout en peper. Meng deur en sit voor.

1C3B0138

Koue aartappel-doopsous

Die Grieke noem dit “skordalia” – dis ’n goue sous van aartappels wat jy saam met lamsboud of hoender kan eet.

genoeg vir 6 – 8

• 680 g (sowat 6) aartappels, geskil en in blokkies gesny
• 4 knoffelhuisies, fyngekap
• 250 ml olyfolie
• 60 ml witwynasyn
• sout en varsgemaalde swartpeper

Plaas aartappelblokkies in pot met koue water en bring tot kookpunt. Kook tot baie sag, sowat 10 – 15 minute. Dreineer en plaas in voedselverwerker saam met knoffel en olyfolie. Verwerk by hoë spoed tot gladde mengsel. Laat loop menger terwyl jy die asyn byvoeg. Geur goed met sout en peper. Sit voor met ekstra olyfolie en gebraaide brood as voorgereg.