FOTO Mickey Hoyle

FOTO Mickey Hoyle

Resepte

Inspirasiekos met SARIE: Beter, beste, beet!

Is daar ’n ander groente in die groente-skatkis met ’n meer kenmerkende kleur en geur as beet?

Maar deesdae weet jy ook nie meer so mooi nie, want by die groenterak in jou supermark tel jy dalk ’n bossie beet op wat rooi is van buite, maar sny jy hom oop, is hy spierwit aan die binnekant, of selfs goudgeel.

My soektog na die storie agter bestanddele op Inspirasiekos met SARIE (Via, DStv kanaal 147) duur voort en ek gaan kuier dié week by Gunter Rix van Quality Veg in Ottery, Kaapstad, waar hy en sy span met nuwe kleure en geure beet boer.

Hier aan die voet van Tafelberg kweek hulle ’n reënboog van babagroentes soos wortels, spinasie en, hul spesialiteit, bababeet.

6 vinnige feite oor beet:

1. Bevat foliensuur, kalium en mangaan en dis ’n lewertonikum

2. Dis ryk aan boor (boron), wat sekshormoon-produksie stimuleer. Aphrodite, die Griekse godin van liefde, het juis beet beskou as die werklike liefdesdoepa, eerder as sjampanje en oesters.

3. Beetsap kan help om bloeddruk te verlaag.

4. Beet in asyn of suurlemoensap het ’n lae GI en sorg vir volgehoue energie.

5. Beet is vol betaïen – baie belangrik vir hartgesondheid.

6. Dis veselryk en goed vir spysvertering.

 

beet 4

Beetblatjang met gebakte kaas

genoeg vir 4

• 280 g (500 ml) suiker
• 35 ml piekelspeserye-mengsel
• 250 ml witwyn-asyn
• 720 g beet (6 groot bete), geskil en gerasper
• 5 ml sout

Kaas
6 velle fillodeeg
• 3 klein brie-kase
• 115 g (125 ml) botter, gesmelt

Plaas suiker, speserye en asyn in kastrol. Bring tot kookpunt terwyl jy roer. Die suiker moet opgelos wees voor die mengsel begin kook. Voeg beet by en verlaag hitte en laat prut 25 minute tot meeste van die vloeistof afgekook is en beet gaar is. Voeg sout by en laat staan sowat 10 minute voor jy dit in gesteriliseerde flesse skep. Laat koud word en maak toe met deksel. Dit sal 2 weke in die yskas hou.

Kaas: Verhit oond tot 180 °C. Plaas een vel fillodeeg op werkvlak en smeer met botter. Plaas tweede vel bo-op. Plaas kaas in die middel en vou fillo om kaas om dit heeltemal te bedek. Herhaal met res van fillo en kaas. Plaas kaaspakkies op bakplaat. Bak vir 15-20 minute of tot goudbruin en bros. Sit voor met blatjang

 

beet 5

Beetrisotto

My ma se asynbeet is legendaries, ek maak risotto met daardie geure en voeg witwyn-asyn by vir die kenmerkende asynsmaak. Glo my, dit is baie lekker!

genoeg vir 4

• 2 rooi beetknolle, geskil en gerasper
• 750 ml hoenderaftreksel
• 45 ml botter
• 1 ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 150 g aborio-rys
• 30 ml witwyn-asyn
• 50 g parmesaankaas, gerasper
• 125 g crème fraîche
• varsgemaalde swartpeper

Bring die beet en hoenderaftreksel in ’n groot kastrol tot kookpunt en kook vir 20 min. of tot die beet sag is. Verwerk in ’n voedselverwerker tot glad. Smelt die botter in ’n groot pan oor matige hitte. Braai die ui en knoffel vir 5 min. of tot sag. Voeg die rys by en braai vir 2 min. Voeg die wynasyn by en braai vir nog 2 min. Gooi die hoenderaftreksel (met die beet) bietjie vir bietjie by die rys, sowat 80 ml op ’n slag. Roer deurentyd – dit duur sowat 20 min. – of tot die risotto al die aftreksel geabsorbeer het maar steeds al dente en nie pap is nie. Strooi die parmesaan oor en sit voor met skeppies crème fraîche en swartpeper.

 

beet 3

Beetkoek

Dis byna iets soos rooi fluweelkoek.

genoeg vir 6 – 8

• 420 g (750 ml) bruismeel
• 15 ml koeksoda
• 1 ml sout
• 250 ml sonneblomolie
• 400 g (500 ml) suiker
• 4 eiers
• 5 ml fyn kaneel
• 1 ml fyn neutmuskaat (nutmeg)
• 500 ml beet, geskil en gerasper
• 250 ml wortel, gerasper
• 150 ml melk
• 100 g pekanneute, gekap

Bolaag
250 g gladde maaskaas
• sap en geel skil van 2 suurlemoene plus ekstra om oor koek te rasper
• vars bessies van jou keuse
• 3 bababete
• 10 eetbare blomme

Verhit oond tot 180 ºC. Sif meel, koeksoda en sout saam. Meng olie, suiker en eiers. Voeg oliemengsel by droë bestanddele en meng goed. Voeg res van bestanddele by en meng deur. Gooi beslag in 30 cm-patroonpan (Bundt-pan) wat goed gespuit is met kleefwerende kossproei.Bak vir 35 – 40 minute of totdat ’n toetspen skoon uitkom. Keer uit op ’n draadrak en laat afkoel. Meng bestanddele vir bolaag, behalwe bessies, beet en eetbare blomme. Skep oor afgekoelde koek. Gebruik skerp mes en sny beet in papierdun skywe. Pak skyfies beet en bessies op koek. Plaas eetbare blomme tussenin. Rasper suurlemoenskil oor en sit voor.