Screen Shot 2016-10-24 at 2.26.15 PM
Resepte

Inspirasiekos met SARIE: Kook met vanielje

As ek aan die geure van die soetkombuis dink, ruik en proe ek heel eerste die geur van vanielje. Dis edel en skaars, maar danksy Werner van der Walt, wat 17 jaar lank al vanieljepeule na SA toe invoer, koop ons nou sy Vanilla man-produkte oral op byna elke supermark se rak.

Ek het gaan inloer by sy fabriek aan die Weskus om te leer, te ruik en te proe aan dié kroon van die kombuis.

Werner van der Walt en sy besigheids venoot Jaco du Toit ken die geur van Vanielje

Werner van der Walt en sy sakevenoot Jaco du Toit ken die geur van vanielje.

Werner, waar kom jul vanielje vandaan?

Die beste vanielje kom steeds uit Afrika. Ek het lank in Madagaskar aangekoop, maar soos alles het die groot manne daar begin oorneem en ons kleiner produsente sukkel maar. Deesdae koop ek by Uganda en ander lande na aan die ewenaar.

Hoekom is dit so duur en skaars?

Die proses neem lank. Ná die plant geblom het, moet dit met die hand bestuif word. Dan vorm die lang peul, wat in die begin grasgroen van kleur is. Daarna word die peule geoes en gestoom tot dit sy kenmerkende swart kleur het. Maar dis nog nie bruikbaar nie, want die peule moet eers gefermenteer word sodat die olie en vanielje-geur kan ontwikkel. Die fermentasieproses duur tot een jaar lank.

IKMS_S4EP04_pic7-570x320

Op ons vanielje-spyskaart dié week:

• Lemoen-en-vanielje-limonade
• Soetpatats met vanielje
• Vanielje-salmporsies
• Spek-konfyt met brood en kaas

IKMS_S4EP04_pic8-570x320

Lemoen-en-vanielje-limonade

Die limonade maak jy deur die vrugte met suiker te marineer – die suiker breek die vrugteselle af en meer sap kom los.

genoeg vir 2 liter

• 24 lemoene, gehalveer
• 2 vanieljepeule, oopgesny en sade uitgekrap
• 200 g (250 ml) suiker
• gebreekte ys
• 1,5 liter sodawater

Plaas die lemoene en vanieljepeule en uitgekrapte sade in ’n groot bak en gooi die suiker daaroor. Laat 30 minute staan. Gebruik jou hande en masseer die lemoene met die suiker tot al die sap en pulp daaruit kom – die growwe suikerkristalle help dat die selle in die lemoene oopbars. Gooi die mengsel deur ’n sif en gooi die skille weg. Giet die limonade oor in ’n glasbeker met gebreekte ys en voeg die sodawater by net voor jy dit skink.

 

IKMS_S4EP04_pic5-570x320

Soetpatats met vanielje

genoeg vir 6

• 1 kg klein patats
• 100 g botter
• 200 g suiker
• 1 vanieljepeul, oopgesny en sade uitgekrap
• 1 heel kaneelstok
• sout na smaak

Skil die patats en as hulle groot is, sny in groot stukke. Smelt die botter in ’n groot kastrol. Voeg die suiker en vanieljepeul en saadjies by en hou aan roer tot die suiker gesmelt is. Kook die botter-suikermengsel tot ’n ligte karamel. Voeg die patats by en meng goed met die karamel. (Die karamel sal effens hard word wanneer jy die patats byvoeg, maar die vog in die patats sal dit weer loperig maak.) Voeg die kaneelstokkie by en geur met ’n bietjie sout. Stel jou stoofplaat op ’n lae hitte en sit ’n deksel op die kastrol. Moenie die patats roer nie, want dit kan uitmekaar val en jy wil dit heel hou. Skud so elke nou en dan die kastrol sodat die patats bedek word met die karamel. Kook die patats tot sag, maar moenie té lank kook nie – dit sal dan soos ’n moes word.

 

IKMS_S4EP04_pic6-570x320

Vanielje-salmporsies

Die soet van die vanielje werk baie goed met salm. Sit dit voor met die patats, en jy het ’n lekker anderste weergawe van vis en tjips

genoeg vir 6

• 2 vanieljepeule, oopgesny en sade uitgekrap
• 230 g (250 ml) sagte botter
• sap en skil van 2 suurlemoene
• 4 salmporsies
• sout en varsgemaalde swartpeper
• olyfolie vir braai

Verhit oond tot 180 °C. Meng vanielje, botter, sap en skil van suurlemoene saam. Verhit kleefvrye oondvaste braaipan tot warm. Geur porsies deeglik met sout en peper. Smeer bottermengsel oor visporsies, bedek dit oral. Plaas porsies met velkant na onder in warm pan en braai vir 2 minute. Draai vis om en plaas dit pan en al in warm oond vir 10 minute of tot vis net gaar is. Sit voor saam met patats.

 

IKMS_S4EP04_pic4-570x320

Spek-konfyt met brood en kaas

Die nuwe gier is die sout smaak van spek saam met gekaramelliseerde uie. Probeer dit saam met goeie suurdeegbrood!

genoeg vir 8

SPEK-KONFYT
• 450 g spekblokkies
• 2 groot uie, gekap
• 1 vanieljepeul, oopgesny en sade uitgekrap
• 125 ml bruinsuiker
• 80 ml baie sterk koffie
• 45 ml balsemasyn

VIR VOORSIT
• 1 suurdeegbrood
• 1 witkorskaas, soos briekaas

Maak konfyt Verhit braaipan tot warm en droogbraai spek tot lekker goudbruin en bros. Voeg uie by en braai nog 5 minute. Voeg res van bestanddele by en verlaag hitte. Laat prut sowat 30 minute stadig tot taai konfyt vorm.
Sit voor met witkorskaas en suurdeegbrood.