sarie0043-533x800
Resepte

Inspirasiekos met SARIE: Murgpampoentjies, 3 resepte vir die banters!

Week na week deel ek resepte en stories. Dié week kuier ek by Johan Vlok by Remhoogte op Riebeek-Kasteel, waar hy en sy span met murgpampoentjies boer – die grasgroen groente met die goudgeel blom, wat jy óók kan eet!

Sedert die banting-dieet in SA posgevat het, het murgpampoentjies ook sterstatus gekry, saam met die nederige blomkool. Maak jy dit reg gaar, is dit soos sponsies wat geur en smaak absorbeer!

Johan is passievol oor sy boerdery en vertel graag hoe gesond dié groente is.

Johan Vlok en Herman in Riebeekkasteel

 

Het jy geweet?

• Murgpampoentjies is ook bekend onder sy Italiaanse naam, zucchini – die woord het al deel geraak van kookkuns en jy sal dít soms in resepte sien.

• Murgpampoentjies bevat meer as twee keer soveel kalium as piesangs. Kalium is nodig vir ’n sterk beenstelsel en mooi tande.

• Met murgpampoentjies is groter vir seker nie beter nie, vertel Johan. Die kleiner murgpampoentjies is vol geur en die groente verloor sy smaak soos wat hy groter word.

• Die grond waarin jy die groente kweek, is baie belangrik. Murgpampoentjies, nes komkommer, raak bitter as dit in die verkeerde omgewing groei. Die weer en grond bevat sekere minerale wat die bitter smaak kan veroorsaak.

• Een porsie murgpampoentjies bevat byna die helfte van die hoeveelheid kalorieë wat daar in ’n porsie broccoli is.

Waarom sukkel ons om die blomme in supermarkte te kry? Die volumes waarmee boere boer, is te groot en die blomme vra moeite en geduld. As jy blomme soek, gaan kyk by plaasmarkte of kry dit by ’n boer in jou omgewing.

 

murgpampoentjies1-570x380

Gerooktesnoek-en-murgpampoentjie-koekies

genoeg vir 6

• 30 ml botter
• 1 ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 400 g gerookte snoek, fyngevlok
• 4 murgpampoentjies, fyngerasper
• 4 takkies tiemie, fyngekap
• 50 ml klappermeel (of koekmeel as jy nie bant nie)
• 2 eiers
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 100 g parmesaan, grofgerasper (of broodkrummels as jy nie bant nie)
• 30 ml olyfolie
• 200 ml mayonnaise van goeie gehalte
• slaaiblare van jou keuse
• 2 suurlemoene, in wiggies

Verhit botter in ’n middelslag-pot tot warm. Voeg ui en knoffel by en braai liggies vir sowat 5 minute of tot begin verkleur. Voeg by gevlokte snoek saam met tiemie, meel en 1 eier. Meng goed saam. Geur met sout en swartpeper. Vorm koekies van sowat 100 g elk. Klits ander eier in ’n plat bak. Doop koekies in eier en dan in parmesaan (of broodkrummels). Verhit botter in ’n middelslag-pan tot warm. Braai koekies sowat 5 – 8 minute aan ’n kant of tot goudbruin en gaar. Sit warm voor saam met mayonnaise, slaai en suurlemoen.

 

murgpampoentjie-6-570x320

Bolognaise met murgpampoentjie-noedels

genoeg vir 6

• 45 ml olyfolie
• 250 g spek, grofgekap
• 1 ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 500 g maalvleis
• 1 x 400 g-blik tamaties
• 250 g tamatiepasta
• hand vol tiemie
• 350 ml rooiwyn
• 100 g parmesaankaas, gerasper
• sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit olyfolie tot warm in middelslag-pot. Voeg spek, ui en knoffel by. Roerbraai vir 5 – 8 minute of tot spek mooi bruin is. Voeg maalvleis by en braai verder vir nog 5 – 8 minute of tot die vleis bruin is. Maak seker jy roer al die klonte in die maalvleis goed sodat jy ’n lekker los vleismengsel het. Voeg blik tamaties, tamatiepasta, helfte van die tiemie en al die rooiwyn by. Meng goed en sit hitte op laag. Laat stadig, prut vir minstens 90 minute, terwyl jy dit elke 10 minute roer. (Hoe langer die mengsel kook, hoe lekkerder die sous.) Voeg parmesaankaas en res van tiemie by. Roer weer. Geur goed met sout en varsgemaalde swartpeper. sit voor met murgpampoentjie-noedels (sien resep onder).

 

murgpampoentjie-5-570x320

Murgpampoentjie-noedels

Sonder stysel is hierdie ’n gesonder opsie

genoeg vir 6

• 100 g gevlokte amandels
• 400 g murgpampoentjie-noedels (zugetti) (Kyk by jou supermark se groenterak of maak jou eie met hierdie katoeter van www.yuppiechef.com)
• 30 ml olyfolie
• sout en varsgemaalde swartpeper

Rooster amandels in braaipan tot goudbruin. Bring pot met water tot kookpunt. Skakel hitte af en dompel noedels in water. Dreineer ná 1 minuut. Voeg olie by en geur met sout en peper. Voeg amandels by en meng deur.

 

murgpampoentjie-4-570x320

Murgpampoentjie-sop

Hierdie sop is baie maklik om te maak en vol geur

genoeg vir 4-6

• 45 ml olyfolie
• 1 ui, gekap
• 2 knoffel huisies, gekap
• 30 ml geroosterde masala
• 250 g gekapte spek
• 12 murgpampoentjies, gerasper
• 2 liter hoender- of groenteaftreksel
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 125 ml room

Verhit olyfolie tot warm in groot pot. Voeg uie en knoffel by. Roerbraai vir 1 minuuut. Gooi masala en spek by en roerbraai verder vir nog 5-8 minute of tot spek begin verbruin. Gooi res van bestanddele by behalwe die room. Bring tot kookpunt en laat kook vir 8-10 minute of tot vloeistof met 1/3 verminder het. Verwyder van hitte en gooi room by. Geur goed met sout en peper. Maak met staafmenger fyn tot gladde mengsel. Sit voor. Jy kan die sop garneer met murgpampoentjie-blomme as jy dit in die hande kan kry.