_MG_7372
Resepte

Kaas-en-botterbrood met net 5 bestanddele

Min dinge maak my hart so warm soos tuisgebakte brood, veral as dit gevul is met geure van botter en beleë cheddarkaas.

Die geheim om dit soos artisanbrood te laat lyk, is om dit in baie meel uit te rol en dan teen ’n baie hoë temperatuur te bak. Dit sorg dat jy daai goue kors kry wat donker bak en onder jou tande kraak. Hier is ’n kortpad-resep wat jou vriende sal flous!

Kaas-en-botterbrood – met 5 bestanddele

genoeg vir 1 brood

• 500 g-sakkie winkeldeeg
• koekmeel vir uitrol
• 100 g botter, gesmelt
• 200 g beleë cheddar, gerasper
• 1 hand vol vars basiliekruid

Verhit jou oond tot 220°C. Sprinkel genoeg meel oor jou werkvlak om dit lekker dik te bedek. Plaas deeg op meel en rol plat met koekroller tot sowat 5 mm dik – dit hoef nie presies gerol te word nie. Smeer botter oor die deeg met ’n eetlepel se agterkant, maak seker jy bedek die hele deeg. Sprinkel kaas oor deeg, gevolg deur paar basilieblare.

Rol deeg op in stywe wors en plaas in ronde sirkel in 20 cm-koekpan wat goed gespuit is met kleefwerende kossproei. Laat rys op warm plek vir 10 minute. Bak vir 20 – 25 minute of tot goudbruin en bros. Laat effens afkoel en keer uit. Sit louwarm voor.

WENK
Om te toets of brood gaar is ná dit gebak is, klop liggies met kneukels op brood. As die brood ’n hol klank het, is dit gewoonlik gaar.