Resepte

Karamelsous

So maak jy. . .karamelsous
Die een sous wat almal laat sukkel. Leer in 4 maklike stappe om dit te maak. Perfek by die piesang-en-gemengde-neutekoek.

  1. Gooi 200 g witsuiker in ‘n pot en voeg 100 ml water by. Roer met ‘n draadklitser tot opgelos.
  2. Bring tot kookpunt en laat vinnig kook totdat ‘n goue karamel vorm – sowat 10 minute. Moenie roer terwyl die sous kook nie.
  3. Verwyder pot van hitte en voeg 50 g botter by. Beweeg pot stadig in die rondte totdat al die botter gesmelt het.
  4. Voeg 125 ml room by en meng vinnig met ‘n draadklitser tot ‘n gladde karamel. Werk versigtig – die mengsel is baie warm. Laat afkoel en gooi oor muffins, of selfs oor roomys.

Hoesê?

Vou Om bestanddele baie versigtig in die vorm van ‘n 8 in te meng. Dis ‘n oorvou-aksie eerder as roer. Gebruik ‘n slaplemmes (spatula).
Uitvoer Om ‘n pan of bakplaat met bakpapier te bedek. Spuit met kleefwerende sproei. Dit voorkom dat die gebak vassit wanneer dit gaar is.
Toetspen Dis ‘n dun metaalpen wat jy gebruik om te toets hoe gaar gebak is. As dit skoon uitkom, is jou koek gaar. Jy kan ook ‘n skoon kebabstokkie gebruik.

Bak sonder om te brou

Lees jou resep heeltemal deur voordat jy begin bak. Maak seker jy verstaan alles en weet wat om te doen. By droë bestanddele is gewig meer akkuraat as volume.Weeg jou bestanddele eerder as om dit af te meet met maatkoppies. Skakel jou oond aan voordat jy begin meng. Stel dit 10 grade warmer as wat nodig is. Draai dit dan af na die korrekte temperatuur wanneer jy die koek in die oond sit. Die ekstra hitte gaan verlore wanneer jy die oond oopmaak. Só bly die temperatuur akkuraat.

Hoe weet ek dis gaar?
Die mees akkurate manier om te toets of ‘n koek gaar is, is om ‘n toetspen in te druk en te kyk of die pen skoon uitkom. Jy kan ook liggies op die koek druk met jou vingerpunte; as die
plekkie waar jy gedruk het soos ‘n spons terugspring, is die koek gaar. Nog ‘n aanduiding is wanneer die gebak wegtrek van die pan se rand af.