sk08_2indies01_regs_onder
Resepte

Kekerertjie-bredie met tamatie, eiervrug en groen soetrissie

(6 – 8 porsies)

  • 65 ml kookolie
  • 5 ml swart mosterdsaad
  • 5 ml komynsaad
  • 15 ml vars gemmer, fyngekap
  • 10 kerrieblare
  • 1 ml geel asafoetida-poeier (beskikbaar by Indiese speserywinkels)
  • 2 vars groen brandrissies, in ringetjies gesny
  • 1 mediumgroot eiervrug, gewas en in 6 cm-blokkies gekap
  • 1 groot groen soetrissie, in skywe gesny
  • 4 mediumgroot tamaties, heeltemal fyngedruk
  • 5 ml borrie
  • 500 ml kekerertjies (chick peas), gekook en gedreineer (volg instruksies op die pak, of gebruik geblikte kekerertjies)
  • 5 ml bruinsuiker
  • sout en vars koljanderblare na smaak

Verhit die olie in ’n swaar vierliter-kastrol, of ’n groot wok, oor medium hitte. Voeg die mosterdsade by die warm olie en braai tot hulle begin krakel en spring, en voeg dan die komynsaad, gemmer, kerrieblare, asafoetida-poeier en brandrissies by. Voeg die eiervrug by en roerbraai vir 8 -10 minute tot sag. Voeg die soetrissie by en roerbraai vir nog 2 – 3 minute. Roer die tamaties en borrie by, bedek gedeeltelik en draai die hitte af na medium-laag. Kook vir omtrent 20 minute, roer net soos nodig. Voeg die kekerertjies by en kook vir nog 5 minute. Voeg bruinsuiker en sout na smaak by. Roer vars koljanderblare deur net voor jy dit voorsit.

 

Wenk

Vir ’n ryker gereg kan jy die eiervrugstukke in olie braai en hulle dan saam met die kekerertjies teen die einde van die kooktyd byvoeg.