Resepte

Kerrie-sosaties (2de plek)

Karringmelk-marinade

  • 250 ml karringmelk
  • 50 ml sonneblomolie of knoffelolie
  • 2 gekneusde, geskilde knoffelhuisies
  • 4 suurlemoenblare, gekneus, of pangeskroeide lourierblare
  • 2,5 ml komynsade
  • 5 ml fyn koljander

Kerriesous

  • 5 swart peperkorrels, gekneus
  • 2 lourierblare, gekneus
  • 2 naeltjies, gekneus
  • 1 kaneelstokkie
  • 3 middelslag uie, fyngekap
  • 30 ml kookolie
  • 30 ml botter
  • 3 knoffelhuisies, geskil en gekneus
  • 15 ml gekapte gemmer
  • 15 ml matige kerriepoeier
  • 5 ml borrie
  • 30 ml appelkooskonfyt
  • 30 ml tamarinde-pasta
  • 375 ml wit asyn
  • 1,5 kg ontbeende lamsvleis*, in 20 mm-blokkies gesny (sny in 10 mm blokkies vir voorgereg-sosaties)
  • 400 g varkspek/skaapstertvet, in 20 mm-blokkies gesny (nie spekvleis)
  • 2 middelslag uie, gekwart en losgemaak
  • 150 g droë appelkose, geweek in 100 ml appelsap

*Koop vleis van goeie gehalte sonder vet of baie bindweefsel – boud, dikrib of blad. Probeer mooi eenvormige blokkies sny.

Meng die bestanddele vir die karringmelk-marinade in ‘n groot Ziplock-sakkie. Plaas vleis in die marinade, verseël en marineer oornag in die yskas op ‘n bord of in ‘n bak. Berei die kerriesous en laat oornag afkoel terwyl die vleis in die karringmelk-marinade marineer. Skroei peperkorrels, lourierblare, naeltjies en kaneel in ‘n swaarboompan. Soteer gekapte ui in verhitte olie en botter. Voeg dan kerrie en gemmer by en braai vir ‘n minuut of twee. Voeg laastens die konfyt, tamarinde-pasta, asyn en geskroeide speserye by en prut vir ‘n paar minute. Laat heeltemal afkoel oornag. Marineer effens gedreineerde vleis in kerriesous vir 1 – 2 dae in ‘n groot Ziplock-sakkie in die yskas. Voeg die appelkose by die laaste 2 uur van marinering. Draai sakkie ‘n paar keer tydens marinering en plaas oor in ‘n bak. 

Ryg 5 – 6 blokkies vleis afwisselend met varkspek, stukkies ui en 1 – 2 apelkose op houtsosatiestokkies. Rooster sosaties (wat by kamertemperatuur moet wees) vir die beste resultate oor koel kole vir 20 minute of tot gaar na smaak (die kole is koel as jy jou hand vir 4 – 5 sekondes 12 tot 15 cm bo die kole kan hou). Geur met sout 5 minute voor einde van gaarmaaktyd. Syg die marinade deur en verdik met ‘n mielieblom-en-waterpasta (20 – 30 ml mielieblom). Sit voor saam met die sosaties.

Wenk
Week die stokkies vooraf in water om te keer dat dit aanbrand en draai die punte toe met foelie terwyl dit gerooster word. Maak ook seker jy ryg nie die vleis, appelkose, uie en varkspek te styf teenmekaar nie sodat dit egalig kan gaar word.