Resepte

Kersietert

(6 porsies)

Deeg

  • 250 g meel
  • 15 ml strooisuiker
  • 2 ml bakpoeier
  • 180 g ongesoute botter, in klein blokkies gesny
  • 30 ml koue water
  • 5 ml vanieljegeursel

Meng die meel, suiker, bakpoeier en botterblokkies in ’n voedselverwerker tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg koue water en vanieljegeursel bietjies op ’n slag by tot ’n deeg vorm. Maak dit toe met kleefplastiek en los vir 30 minute in die yskas.

Vulsel

  • 2 blikke swart kersies
  • 250 ml bruinsuiker
  • 30 ml mieliemeelblom (maizena)
  • 15 ml water
  • 1 eierwit, effens geklits
  • strooisuiker om bo-op die deeg te sprinkel

Gooi die kersies met sous en al in ’n kastrol. Voeg die bruinsuiker by. Verhit kersies en hou aan roer tot suiker gesmelt is. Bring sous tot kookpunt en laat afkook tot die sous met die helfte verminder het. Maak mieliemeelblom aan met die water tot gladde pasta. Voeg kersies by en laat mengsel dik kook. Laat afkoel. Verhit oond tot 180 °C. Verdeel deeg en rol een helfte dun uit. Voer ’n goedgesmeerde quiche-pan met ’n los boom uit met die deeg. Gooi afgekoelde kersiemengsel in die uitgevoerde pan. Rol res van deeg uit en sny in lang stroke met ’n deegsnyer. Plaas die stroke deeg oor mekaar oor die vulsel (soos op die foto). Smeer stroke met geklitse eierwit en sprinkel met strooisuiker. Plaas in warm oond en bak vir 45 minute. Sit warm voor.