FOTO: Foto’s: Micky Hoyle

Resepte

Koekies vir die Kersboom

(ongeveer 40 koekies)

  • 4½ koppies meel, gesif
  • 20 ml bakpoeier
  • 2,5 ml sout
  • 250 g ongesoute botter
  • 2 koppies suiker
  • 2 eiers
  • 125 ml melk
  • 2 ml vanieljegeursel
  • ekstra suiker om bo-oor te sprinkel

Verhit jou oond tot 180 °C. Maak seker jou oondrak is in die middel van die oond. Voer bakplate uit met bakpapier. (Ek het eenkeer per ongeluk twee bakplate bo-op mekaar in die oond gesit om koekies te bak. Dit het heerlik uitgekom – nie donkerbruin aan die onderkant nie. Probeer dit gerus as jou oond geneig is om koekies te bruin te bak.) Sif al die droë bestanddele saam. Room die botter en suiker saam tot lig en romerig met ’n elektriese menger. Voeg die eiers by en klits goed. Voeg jou droë bestanddele koppie vir koppie by saam met die melk en vanielje-geursel. Meng goed. Bedek die deeg met kleefplastiek en laat rus in die yskas vir minstens 1 uur. Verdeel jou deeg in 4 en rol uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Druk dit uit met ’n koekiedrukker en sprinkel suiker bo-op. Maak bo ’n gaatjie met ’n sosatiestokkie vir die toutjie. Bak dit vir 8 tot 10 minute en maak die gaatjies weer oop met die stokkie as jy die koekies uit die oond haal. Laat eers op die bakplaat afkoel voor jy dit afhaal.

Versiersel

  • 2 koppies versiersuiker, gesif
  • 1 eierwit
  • paar druppels suurlemoensap
  • silwer balletjies
  • kleursel

Meng al die bestanddele behalwe die kleursel saam. Kleur die versiersel ’n kleur wat jy verkies. Spuit patrone bo-op die koekies met ’n spuitsak met ’n klein punt en versier met silwer balletjies. Bind ’n toutjie aan die koekie om dit aan die boom te hang.