Resepte

Kolwyntjies

(sowat 12 kolwyntjies)

  • 62 g botter
  • 125 ml strooisuiker
  • 2,5 ml vanieljegeursel
  • 1 eier
  • 250 ml koekmeelblom
  • 7 ml bakpoeier
  • 1 ml sout
  • 75 ml melk

Sit 12 papierhouertjies in ’n muffinpan. Klits die botter en strooisuiker tot lig en romerig. Voeg die vanieljegeursel en eier by en meng goed. Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam in ’n aparte mengbak en roer die helfte van die meelmengsel by die bottermengsel. Roer die melk en die ander helfte van die meelmengsel by sodat ’n dik beslag vorm. Skep die beslag in die papierhouertjies en bak vir ongeveer 15 minute teen 180 ˚C in die oond. Haal uit die muffin-pan en plaas op ’n afkoelrak.

Versiersel

  • 400 g versiersuiker
  • 30 ml water
  • 30 ml suurlemoensap
  • poeierkleursel van jou keuse

Sif die versiersuiker en roer die water en suurlemoensap by (voeg ekstra water by as die versiersel te dik is). Meng ’n klein hoeveelheid poeierkleursel bietjies-bietjies by totdat jy die regte kleur het (jy kan gewone kleursel gebruik as jy nie poeierkleursel kan kry nie). Plaas ’n opgehoopte teelepel versiersel op elke kolwyntjie en smeer bo-oor.