Lam-en-bier-pastei
Resepte

Lam-en-bier-pastei

Bier maak die lamsvleis sag en geurig.

8 porsies

• 60 ml olyfolie
• 1 ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 1 kg lamsblokkies
• 250 g bruinsampioene, gehalveer
• 200 g tamatiepasta
• 500 ml lamsvleisaftreksel
• 2 x 330 ml-blikke bier
• sout en varsgemaalde swartpeper

KORS

• 400 g koekmeel
• 200 g botter
• 80 ml yswater
• 4 wiele feta
• 1 eier, liggies geklits

Verhit olyfolie in ’n middelslag-pot. Voeg uie en knoffel by en braai liggies vir 5 minute of tot uie verbruin. Voeg lam en sampioene by en braai 8 – 10 minute of tot goudbruin. Voeg pasta by en braai nog 3 minute.Gooi aftreksel en bier by en geur met sout en swartpeper. Verlaag hitte en laat prut 30 – 35 minute of tot lam sag is en ’n dik sous vorm. Laat afkoel. Kors Verhit oond tot 180 °C. Meng meel en botter teen hoë spoed in ’n voedselverwerker tot dit lyk soos fyn broodkrummels. Voeg yswater by en meng tot ’n bal vorm. Laat rus in yskas tot yskoud. Rol deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak tot sowat 5 mm dik. Spuit 8 holtes (volume van 250 ml elk) van groot muffinpanne met kleefwerende kossproei. Sny deeg in sirkels en voer panne daarmee uit. Krummel feta in elke holte en verdeel koue vleis daarin. Rol oortollige deeg weer uit en sny deksels van sowat 1 cm groter as elke holte.Druk bo-op en verseël rand met ’n vurk se plat kant. Verf met geklitste eier en bak 20 – 25 minute of tot goudbruin.