Resepte

Land van kleur en geur

Tongbrand-salsa, gevulde tacos en tydlose tamales toegedraai in piesangblare is enkele bekende Mexikaanse geregte, maar ’n liefde vir mielies is veral die ding wat ons met die Mexikane deel. Tog sal die meeste mense eerste dink aan moles (souse), veral guacamole. Fynkokke gee hoog op oor cerviche, rou seekos wat in lemmetjiesap “gekook” word. Hierteenoor val sekere Mexikaanse geregte reg in ons kraal. Waarvan praat ek? Murgkoekies, waar murg en mieliemeel soos hamburgerkoekies gebraai word en met ’n sterk brand-avokado-salsa getop word.

Daar is sekerlik nie ’n Mexikaanse huis waar daar nie deurentyd ’n pot boontjies op die stoof is nie. Dié nederige stapelvoedsel moet egter nou eers vir meer verhewe geregte plek maak. Hier dink ek aan kreef en die wonderlike pannekoeke met dennepitte. Geregte wat ons met hulle gemeen het, is gestoofde beestong, met die verskil dat hulle s’n baie brandrissies bevat.

Champurrado is ’n eeue-oue klassieke sjokoladedrankie waar sjokolade met fyn mieliemeel verdik word en met kaneel gegeur word voor dit met suiker versoet word. Sterk, diepgeroosterde koffie wat in ’n olla (kleipot) met growwe suikermelasse, kaneelstokke, kruienaeltjies en lemoenskil verhit word voor dit deur ’n sif in keramiekkoppies geskink word, rond ’n Mexikaanse ete perfek af. – PETER VELDSMAN

Spyskaart

6 porsies

Voorgereg

Chorizo-empanadas

Hoofgereg

Tacosmet 8-uur-varkvleis

Tamales – mielie-en-hoender-pakkies

4 moet-maak-salsas

Nagereg

Churros metwarm kaneelsjokolade