Resepte

Lasagne

(8 – 10 porsies)

  • 120 ml botter
  • 120 ml koekmeel
  • 1 liter melk
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 250 g droë lasagne-pastavelle
  • 1 x bolognaise-basisresep
  • 200 g cheddarkaas, gerasper

Verhit oond tot 200 °C. Smelt botter in ’n middelslag-pot oor lae hitte. Voeg meel by en roer met ’n draadklitser tot gemeng. Voeg melk by terwyl jy klits. Hou aan klits oor lae hitte tot mengsel dik en glad is, sowat 8 – 10 minute.Haal van plaat af en geur goed met sout en swartpeper. Gooi ’n klein bietjie van die witsous onderin ’n oondvaste bak van 30 x 20 cm. Pak ’n laag pasta gevolg deur ’n laag bolognaise
en ’n laag witsous bo-op.Herhaal proses tot hele bak vol is. Eindig met witsous en strooi gerasperde kaas oor. Plaas in warm oond en bak vir 35 – 40 minute of tot goudbruin en gaar. Sit warm voor met vars brood en slaai van jou keuse.