Resepte

Lemoen-eendborsies

4 porsies

  • 4 ontbeende eendborsies
  • 20 ml olyfolie
  • 30 ml botter
  • 100 ml rooiwynasyn
  • 50 g suiker
  • 450 ml hoenderaftreksel
  • 75 ml Grand Marnier
  • skil van 2 lemoene
  • sap van 1 lemoen
  • 2 lemoene se wiggies
  • vars bronkors
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit die olyfolie en botter in ’n groot pan. Sny so 4 kepe in die eendborsies se vel (net deur die vel, nie in die vleis self nie). Wanneer die olyfolie en botter lekker warm is, sit die eendborsies velkant in die pan. Braai die velkant tot mooi goudbruin, draai die borsies om en braai bruin aan die ander kant. Geur met sout en swartpeper. Verlaag die hitte van die pan en laat die borsies nou verder braai vir so 45 minute terwyl jy met die sous begin. Wees versigtig, want die sous kan baie warm word. Gooi die asyn en suiker in ’n skoon pan. Bring die mengsel tot kookpunt, maar roer die heeltyd tot die suiker gesmelt het. Laat nou kook tot ’n karamelkleur (dit duur so 15 minute). Voeg die res van die bestanddele by, behalwe die bronkors. Laat die hele storie nou vir 30 minute kook. Haal die eendborsies uit en voeg vir so 15 minute by die sous. Sny elke borsie in 3, sit bo-op ’n hand vol bronkors en gooi van die skil en sous oor.

Om te drink
Gooi weg die inhibisies en kry ‘n groot shiraz. Simonsig Merindal, Stellenzicht of Robertson se Wolfkloof.