Resepte

Lemoen-en-kaneel-sagopoeding

“Ek het met groot opwinding deur die Herfs-uitgawe van SARIE KOS geblaai en was veral bly oor die lemoen-artikel. Lemoen werk mos in énigiets – drank, sjokolade, slaai. Toe ek die sagopoedingwedstryd sien, móés ek net inskryf! Een van my kleintyd-gunstelinge was my ma se sagopoeding met lemoensous (ek het dit seker agter die sous aan geëet). Sagopoeding is verseker nie almal se ding nie, want dit kan selfs effe smaakloos wees. Daarom verkies ek om myne ‘n bietjie meer smaak te gee met die kaneel, lemoenskil en gemengde speserye. Die bruinsuiker gee die poeding ook so ‘n mooi kleur.”

  • 1 liter melk
  • 250 ml sago
  • 2 vanieljepeule (kan vervang word met 5 ml vanieljegeursel)
  • 1 kaneelstokkie (kan vervang word met 2,5 ml fyn kaneel)
  • 100 g (110 ml) botter
  • 4 groot eiers, geskei
  • 100 g (125 ml) bruinsuiker
  • 100 g (125 ml) wit suiker
  • 5 ml gerasperde lemoenskil
  • 2,5 ml gemengde speserye
  • 60 ml appelkooskonfyt
  • 60 ml strooisuiker
  • 2,5 ml kremetart

Week die sago vir 2 uur in die melk. Verhit oond tot 140 °C. Krap die sade uit die vanieljepeule en voeg by die sago, saam met die kaneelstokkie en botter. Bring tot kookpunt en kook oor lae hitte totdat die sago sag en heeltemal deurskynend is. Verwyder van hitte en laat afkoel. Verwyder die kaneelstokkie en maak seker dat al die stukkies uit is. Klits eiergele, suiker, lemoenskil en gemengde speserye tot dik en romerig. Voeg die eiermengsel by die sago-mengsel en meng deur. Gooi die mengsel in ‘n goedgesmeerde oondvaste bak. Verhit die appelkooskonfyt effens en drup dan eweredig bo-oor die beslag. Plaas in oond en bak vir 30 minute. Klits eierwitte effens styf. Strooi die strooisuiker en kremetart oor en klits tot styf en blink. Smeer bo-oor die gebak sodra dit uit die oond kom, en bak dan vir nog 20 minute teen 140˚C. Sit dadelik voor met lemoensous.

Lemoensous

  • 250 ml vars lemoensap (of botteltjie sap met vesel)
  • 125 ml water
  • 125 ml suiker
  • 15 ml vlapoeier

Meng eerste 3 bestanddele goed totdat suiker opgelos het. Meng vlapoeier apart met ‘n klein bietjie water tot goed opgelos en voeg dan by bogenoemde. Kook saam en roer deurgaans tot sous verdik. Sit warm of koud voor met die sagopoeding.

 

  • eAaraS ouudeauzdhji, [url=http://hqnozxkdicgi.com/]hqnozxkdicgi[/url], [link=http://kxhtpflyrxow.com/]kxhtpflyrxow[/link], http://nlyndfpblydq.com/

  • Caryn Gouveia

    Het nooit sago geeet nie – my ma het altyd gese dis padda-eiers, maar het die resep probeer om manlief bietjie te bederf…Wel – ek eet nou Sago poeding!!!! Dis regtig baie smaaklik en die lemoensous maak dit!