Resepte

Melktert

  • 500 ml melk
  • 30 ml botter
  • 1 stuk heel kaneel
  • knippie sout
  • 2 ekstra groot eiers, geskei
  • 100 ml melk
  • 15 ml meel
  • 30 ml mieliemeel
  • 125 ml suiker
  • klaargerolde blaardeeg
  • fyn kaneel

Voeg die melk, heel kaneel, knippie sout en botter saam in ’n klein kastrol. Verhit tot net by kookpunt. Klits die eiergeel, 100 ml melk, meel en mielieblom saam. Voeg nou ’n bietjie van die warm melk by die eiermengsel en klits goed. Gooi die eiermengsel by die res van die warm melk. Hou aan met roer tot dik. Dit gaan lyk of jy nou vla maak. Laat die mengsel heeltemal afkoel. Voer intussen ’n tertbord (ongeveer 20 cm breed) met die blaardeeg uit. Wanneer die papmengsel afgekoel het, klits die eierwitte styf en vou in. Gooi in die tertdeeg en bak in ’n warm oond teen 180 °C vir sowat 35 minute. Maak seker dat die vulsel nie te veel skommel nie – los dit dan eerder nog ’n rukkie in die oond. Haal uit en laat afkoel. Sprinkel fyn kaneel oor en sit voor saam met bessies, as jy wil.

 

Om te drink
Muscadel. Rooi. Van Nuy of Slanghoek. Ag, as dit by muskadel kom, is al ons wyne wonderlik. Maak die wyn bietjie koud en proe hoe lekker.