Resepte

Meringues met vanilla-room

maak 6 tot 8 meringues

  • 4 eierwitte
  • 125 g strooisuiker
  • 100 g versiersuiker, gesif
  • 12,5 g mielieblom, gesif
  • 250 ml room
  • 1 vanilla-peul
  • nog 50 ml strooisuiker
  • 1 wit roos vir garnering

Klits die eierwitte in ’n elektriese menger tot sagtepunt-stadium. Voeg die 125 g strooisuiker lepel vir lepel by en klits goed. Sif die versiersuiker en mielieblom saam. Vou die mengsel met ’n groot metaal-lepel in die meringue-mengsel. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit en spuit goed met Spray & Cook. Voorverhit oond tot 120 °C. Sit die meringue-mengsel in ’n groot spuitsak en spuit die verlangde vorm op bakpapier. Plaas in die oond – op die middelste rak. Bak vir 3 uur. Skakel die oond af en maak die deur effens oop. Laat oornag afkoel. Sny die vanilla-peul oop en skraap die pitte met ’n messie uit. Voeg by die room en klits styf. Voeg 50 ml strooisuiker by en skep van die room bo-op elke meringue. Versier met ’n vars roosblaar.