Resepte

Minestrone-sop

Jy benodig

  • 125 g droë wit haricot-boontjies
  • 30 ml botter 
  • 200 g murgpampoentjies, in blokkies gesny
  • 3 wortels, in blokkies gesny 
  • 2 aartappels, in blokkies gesny
  • 1 groot selderystok, gesny 
  • 200 g gerookte varkvleisrepe 
  • 2 uie, fyngekap 
  • 4 preie, fyngekap
  • 3 groot tamaties, in klein blokkies gesny 
  • 2 liter hoender-aftreksel
  • 1 lourierblaar
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Bring 1 liter water tot kookpunt. Voeg droë bone by en laat kook vir 2 minute. Haal van die hitte af en laat staan vir 1 uur. Plaas terug op hitte en laat prut vir 1 uur tot effens sag. Dreineer. Smelt botter in ’n groot kastrol. Braai murgpampoentjies, wortels, aartappels en seldery vir sowat 5 minute saam, maar nie tot bruin nie. Braai varkrepe in ’n klein bietjie olyfolie in ’n
groot kastrol tot bruin en bros. Haal varkrepe uit die kastrol en dreineer op kombuispapier. Gooi uie en preie in dieselfde kastrol waarin die vleis gebraai is. Braai vir sowat 8 minute tot sag. Voeg tamaties, gebraaide groente, aftreksel en lourierblaar by. Geur met sout en swartpeper. Laat kook vir 25 minute. Verwyder die lourierblaar en voeg bone en gebraaide varkvleis by. Kook verder vir 15 – 20 minute.

Plat pizza-brood
By ’n Italiaanse sop het jy ’n Italiaanse brood nodig.
(4 pizza-brode)

Jy benodig

  • 500 g witbroodmeel 
  • 1 x 10 g kitssuurdeeg 
  • 2 ml sout 
  • sowat 300 ml louwarm water 
  • olyfolie, om bo-op die pizza te smeer
  • growwe sout, om bo-op te sprinkel

Verhit jou oond tot 260 °C. Plaas meel, suurdeeg en sout saam in ’n groot mengbak. Voeg louwarm water by – nie alles op een slag nie. Maak aan tot ’n lekker stywe deeg. Gooi meel op jou werkoppervlak en knie deeg vir minstens 10 minute tot glad en elasties. Plaas deeg in ’n bak en smeer ’n klein bietjie olyfolie oor. Maak toe met kleefplastiek en laat op ’n warm plek tot dubbel die grootte rys. Knie dit dan af. Verdeel die deeg in 4 en rol 4 ronde pizza-brode uit. Plaas op ’n bakplaat en smeer met ’n bietjie olyfolie. Besprinkel met growwe sout en plaas in
die warm oond. Bak vir sowat 10 minute tot bruin en bros.

Om te drink
Mooiplaas Chenin Blanc