Resepte

My lekkerste appeltert

(6 porsies)

6 klein tert-pannetjies

Deeg

  • 100 g ongesoute botter
  • 160 g (285 ml) meel
  • knippie sout
  • 20 ml strooisuiker
  • 1 eiergeel, geklits met 37 ml koue water

Meng die botter en meel in jou voedselverwerker totdat dit soos broodkrummels lyk. Voeg die sout en strooisuiker by, en daarna die eiergeelmengsel. Bedek met plastiek en los die deeg in die yskas vir sowat 1 uur. Rol die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Druk sirkels uit wat groter is as die pannetjies en voer die pannetjies daarmee uit. Onthou om die pannetjies met Spray & Cook of gesmelte botter te smeer. Sit waspapier bo-op die deeg. Vul met boontjies en bak dit blind vir 12 minute teen 200 °C. (Onthou net, jy kan nie die boontjies daarna weer gebruik nie.) Laat afkoel.

Appelvulsel

  • 4 rooi appels
  • 90 ml strooisuiker
  • 5 ml fyn kaneel

Skil die appels en sny in dun skywe. Meng die strooisuiker en kaneel en strooi oor die gesnyde appels. Meng goed. Pak die appels mooi in die afgekoelde tertbakkies. Bak vir 20 minute teen 180 °C. Haal uit en laat afkoel. Maak intussen die vlavulsel wat oor die tertjies gegooi en verder gebak moet word.

Vlavulsel

  • 1 eier
  • 90 ml strooisuiker
  • 30 ml meel
  • 100 ml room
  • 30 ml brandewyn
  • 15 ml strooisuiker

Klits die eier en strooisuiker saam tot lig. Voeg die meel by, dan die room en brandewyn, en klits goed. Plaas die tertpannetjies op ’n bakplaat, gooi die vlavulsel oor en bak vir 10 minute teen 180 °C. Haal uit die oond en strooi die 15 ml strooisuiker oor die tertjies. Plaas terug in die oond vir nog 20 minute. Jy kan die tertjies verder bo-op karamelliseer met ’n blaasvlam. Sit warm of koud voor, nes jy dit verkies.