Resepte

Neil se ‘mean’ slaai

  • 3 soetuie (indien in seisoen)
  • 3 soetrissies (rooi, groen en goud: Rastakleure)
  • 1 rooi brandrissie
  • 2 papino’s
  • 4 lekker suurlemoene
  • 250 g fetakaas
  • 1 eetlepel groente-masala
  • vars gemaalde swartpeper en sout na smaak
  • 2 knoffelhuisies
  • ‘n hand vol roket
  • olyfolie
  • lemmetjieskil
  • en ’n knippie saffraan as jy fancy wil wees
  • goeie vriende (so 3 of 4) Stef Bos-/Gordon Lightfoot-/Damien Rice-CD (Anton Goosen en Koos Kombuis werk ook)
  • kamera (sommer een van daardie weggooi-goed)

Sit dadelik die musiek liggies op die agtergrond aan. Skink die wyn en sorg dat die glase vol bly. OK, die slaaitjie, oftewel Meneer Slaai, werk soos volg: Kap al die uie, soetrissies en papino’s op in sulke groot stukke (nie te fyn nie). Meng hulle en voeg die fetakaas by. Ons is so te sê daar, maar die geheim lê in daai masala-sousie. Ek maak die sousie só: Ek druk al die sap uit die suurlemoene oor ’n sif, want ek is nie so mal oor suurlemoenpitte nie. Dan voeg ek so ’n knertsie olyfolie by sodat ’n mens nie jou enjin se gasket blaas nie. ’n “Lub”, soos my mechanic, Neels, sal sê. Dan kap ek die knoffel, die brandrissie en die roket (dis maar na smaak) goed fyn en gooi dit by die suurlemoensap en olyfolie. ’n Eetlepel-skeppie masala (plus-minus) en ’n sout-en-pepertjie, want mens kan. Gebruik een van daardie lekker mengapparate van Barbara, klits dit hier, klits dit daar en siedaar! Gooi dit nou oor die slaai, vat ’n houtlepel en gee dit ’n roer. Die gerasperde lemmetjieskil en saffraan mag nou oorgestrooi word, net vir … wat sal ’n mens dit noem? Afronding! Innie poedingbakkie en eet dit met ’n poedinglepel. Geniet en skep nog, ek gee nie om as ’n mens twee keer poeding skep nie. Neem foto’s van vriende se voor- en na-gesigte.