Resepte

Neila se Garnale

Die garnale

  • olyfolie
  • 2 brandrissies, fyngekap
  • 1 eetelepel vis-masala
  • 2 lemmetjies
  • suurlemoene (weer so 4)
  • 4 huisies knoffel, fyngedruk
  • vars gemaalde swartpeper en sout, na smaak
  • Jan Blohm-/Buena Vista Social Club-/John Lee Hooker-CD

Kom ons veronderstel jy’t eers die slaai gemaak en is nou lus vir ’n vissigheidjie voor Barbara se paella. Dis nou al ’n paar uur later en die mense se glimlagte is groter as toe hulle daar by jou aangekom het. Die subtiele klanke van Damien Rice op die agtergrond het nou ’n bietjie oemf nodig. Jan Blohm of Buena Vista Social Club sal werk. Ons het ’n lekker pan of ’n wok nodig. Ek, soos Barbara, bodder nie te veel met die skoonmaak” van garnale nie. Ek gooi hulle sommer so getentakeld in die pan. Daardie dermpie waarvan hulle altyd praat, skil jy saam met die dop af wanneer jy hom eet (met jou hande, natuurlik). O, ja, ek’t vergeet om te sê moenie vriende nooi wat allergies is vir jodium nie. Die sousie is weer eens die geheim en is feitlik dieselfde as vir die slaai. Ek gebruik wel ’n bietjie meer olyfolie, maar daar is steeds die suurlemoensap en al die ander bestanddele. Ek gooi die lot saam, roer bietjie en dan in die pan teen ’n lekker hitte. Dit moet sommer so stoom as ’n mens dit ingooi. Die garnale duik dan saam in en dis betreklik eenvoudig om te sien – en te ruik – wanneer hulle reg is vir eet. Hulle is nou nie meer grys nie, maar so ’n mooi pienk-oranje en jou mond water. Kom ons skat hulle was so tussen 5 en 7 minute in die pan, aan albei kante. ’n Mens kan eintlik nie te veel sous hê nie, so toets maar vir jouself wat werk. (As daar sous oorbly, kan ’n mens Barbara se broodjie vat om die pan skoon te maak.) Sny die lemmetjie op – bloot vir garnering. Dit kan ook nie kwaad doen om vir oulaas ’n suurlemoen of lemmetjie se sap bo-oor uit te druk nie – dit help ook om jou gaste te beïndruk, want Jamie Oliver doen dit. Die feit is: Dit proe lekker. Skuif maar net die pan dat die goeters nou nie vasbrand nie en nooi die mense om sommer in die kombuis te kom garnale skil-en-kou. Sluk dit af met ’n bukettraube of iets dergeliks. Teen hierdie tyd het jou gaste sommer self die rol van fotograaf oorgeneem en die gevoel is oor die algemeen lekkerder as ’n Maandagoggend 07h00.