FOTO Micky Hoyle

Resepte

Paasbolletjie-broodpoeding

• 6 paasbolletjies
• sowat 90 ml botter
• sowat 90 ml appelkooskonfyt
• 250 ml room
• 3 eiergele
• 4 eierwitte
• 100 g (120) ml strooisuiker

Verhit jou oond tot 180 °C. Sny die paasbolletjies oop en smeer dik met botter en appelkooskonfyt. Plaas een gesmeerde paasbolletjie in ’n teekoppie wat gesmeer is met botter. Druk met ’n mes gate in die paasbolletjie. Herhaal met die ander paasbolletjies. Klits die room en eiergele saam. Gooi die room-en-eiermengsel oor die paasbolletjies in die koppies. Plaas die koppies in ’n oondbak en vul die bak met kookwater tot halfpad op teen die koppies. (Dit is wat ’n mens ’n bain-marie noem.) Plaas in oond vir 15 minute. Klits intussen die eierwitte styf en voeg die strooisuiker lepel vir lepel by. Dit moet ’n lekker stywe meringue wees. Haal die oondbak versigtig uit die oond en skep die meringue bo-op die paasbolletjies. Plaas terug in die oond vir so 8 minute tot die meringue verbruin. Haal uit en sit warm voor.